Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Wednesday, March 21, 2012

Hoofstuk 5 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)

Die Coetsers en die Tweede Groot Trek 


Hendrik Potgieter 

Die gebied is een ongesonde streek…

Gestadig het die trek uit Natal voortgeduur, en soos Andries Pretorius dit in die Nalalier van 3 Oktober 1845 gestel het:  “omdat hulle alle vertroue in die regering verloor het; omdat hulle ontevrede is oor grondreëlings; omdat hulle moeg is om te wag op beslissings wat elders geneem moet word, omdat hulle en hulle eiendomme nie langer veilig is nie; omdat hulle sedert lank gelede die instroming aanskou van bantoes, wat doen en maak net wat hulle wil sonder hindernis of beletsel.

Kan ‘n mens hulle kwalik neem dat hulle weereens die duurgekoopte bodem prysgegee het en getrek het?  Nee, stellig nie, want vorige ondervindings het geleer dat die Britse owerheid nie by magte was om aan sy “onderdane” sekuriteit te verseker nie en nog minder om hulle toe te laat om hulle self-identiteit te behou en te ontwikkel.

Hendrik Potgieter het alreeds by twee geleenthede ekspidisies noord van die Vaalrivier onderneem.  ‘n Roete na Delgoabaai, om met die Portugese handel te dryf, het hy gevind.  Hy was ingenome met die uitslag van sy reise, want – so het hy geglo en gehoop – nou was hulle eindelik verseker teen Britse onderwerking en anneksasie.”  (Van der Walt et al.: 237)

In Mei 1845 vind die derde trek van Potgieter plaas.  Die Coetsers en baie ander trekkers maak hierdie reis mee.  Sonder enige noemenswaardige voorvalle kom hulle eindelik op Ohrigstad aan – daardie jare Andries Ohrigstad genoem.  Die naam van die dorp het sy ontstaan soos volg gehad:  In die hawe van Lourenco Marques het die vragskip “Brazilia” voor anker gelê.  Dit was ‘n vragskip vanaf Holland, volgelaai met geskenke gestuur deur ‘n uiters simpatiekgesinde handelaar met die naam van George Orhig.  As blyke van dankbaarheid teenoor Potgieter en Ohrig het die trekkers besluit om die nuutgestigte dorpie na hierdie twee persone te vernoem, vandaar die naam Andries Ohrigstad.
Hendrik Potgieter en Die Matabeles 

Die aanvanklike entoesiasme en hoop om ten einde tot ruste te kom, was egter van korte duur.  Hierdie nuutgestigte dorpie, waarvan die oorblyfsels vandag nog te sien is, bewys homself as ‘n ongesonde en uiters gevaarlike gebied, vir vee -sowel as menselewens.  “Die dorp self was in die koorsagtige streek geleë en die omgewing was nie so geskik vir algemene boerdery soos aanvanklik gemeen  nie.  Die eerste groot trek uit Ohrigstad was in Maart 1848 ‘n voldonge feit.  Leë huise, beboude erwe en bewerkte landerye wat nie van die hand gesit kon word nie, is net so laat lê om later weer aan ander toegeken te word.” 
(Ibid.: 238)

Ohristad, wat die eerste jaar na sy stigting oor die 300 huisgesinne getel het, was met die oog op die handel en die onafhanklikheid bedoel om die plek te word waar die trekker-ideale moes kristalliseer; maar helaas, Potgieter se vertrek en die koorsepidemie die jaar daarna (1849) het die dorp die nekslag toegedien.  Pretorius skrywe aan dominee Faure: ”de gele koorts met het schyden des somers … heeft gewoed te Ohrigstad … En is ryklik menschen gestonfen …”

Die ongesonde toestand maak dat die Coetsers van die eerste gesinne is om spore te maak.  Hulle vestig hulle in die gebied wat deur die swartmense “Mashisjing” – plek van die lang gras – gedoop is.

Die kinders van die veld het jou Mashisjing gedoop;
Plek van die lang gras, met vlaktes wyd en oop.
Ongerepte natuur was jy eers gewees
Waar jy God’s hand in alles kon lees.
(PJ Coetser)

Lydenburg 
Johannes Jacobus Coetser, jonger broer van Philippus, bekom die plaas Rietspruit, waar die dorp Lydenburg later aangelê sou word.  Die ander Coetsers en hul stiefvader, Jan Mathys de Beer, vestig hulle op Beerspos – hoër op langs Sterkspruit – waar die visserye vandag geleë is.  Ander trekkers soos die Schoemans, Viljoens, Krugers, Steuns, Bezuidenhouts en vele ander vestig hulle ook in die omgewing van Mashisjing.

Brandarm en afgemat na twaalf jaar se omswerwinge het hulle geglo dat dit nou die eindelike Eden van hulle uittog uit die Kolonie sou wees”.

Die onverbiddelike voortbeuring teen die soms so ongenaakbare toestande het tot gevolg gehad dat ‘n geharde en vasberade geslag te voorskyn getree het.  ‘n Geslag wat gedetermineerd was om sy identiteit en selfbeskikking te behou.  Hierdie vasberadenheid het sy weerklank, met nootlottige gevolge vir die Britse regering, in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë gevind.

Die Coetsers wat in 1848 – 1849 op Lydenburg en omstreke aangekom het, was die volgende:
  • Philippus Jeremia, sy gade Johanna Adriana Venter en hulle krosie van vier;
  • Johannes Jacobus, sy gade Johanna Martina Regina Viljoen en die oudste dogtertjie, Sara Maria; 
  • Petrus Willem, Johannes (Jan) Petrus en Hendrik, aldrie op hierdie stadium nog ongetroud.

Johannes Jacobus woel en werskaf op Rietspruit en hoër-op, langs Rietspruit, die Coetser en die De Beers.

Jan de Beer doop die plaas Beerspos omdat hier ‘n soort poskantoortjie was.  Beerspos word later herdoop na Sterkspruit.  ‘n Gedeelte van die plaas, ongeveer 38 hektaar, behoort vandag nog aan die nasate van Hermanus (Swart Hermaans) Coetser.  Voorwaar ‘n skilderagtige, boomryke plekkie wat pragtig geleë is aan die walle van die Sterkspruit.  Die opstal, opgerig in ongeveer 1890, staan op ‘n natuurlike plato en kyk af op die laerliggende landerye.  ‘n Sterk stroom water, wat deur Sterkspruit gevoed word, loop deur die plasie en word vir besproeiing gebruik.  Die oorspronklike plaas, in sy geheel, kan stellig die Coetserkolonie genoem word.

Met die verskuiwing vanaf Ohrigstad het die Volksraad ‘n ander dorp beplan.  Dit sou aangelê word op die plaas Boshoek van Anton Fick.  Die plaas Waterval van JJ Malan en Enkeldoorn van ou Piet Schoeman sou ook verval en aan die dorp toegeken word.  Daar word besluit om die dorp Lydenburg te noem ter herinnering aan die lyding wat hulle in Ohrigstad verduur het.

Al gou egter, blyk dit dat daar nie genoeg water vir die nuwe dorp beskikbaar sou wees nie en daar moes dus weer uitgekyk word na ‘n geskikter plek vir die aanleg van die nuwe dorp.”  (Lydenburgse Eeufeesgedenkboek, 1850 – 1950: 31 en 32).

Die lot val eindelik op die plaas Rietspruit van Johannes Coetser.  Vir Johannes, wat alreeds met die boerdery begin het, sekerlik ‘n treurige dag.  ‘n Beter en meer geskikte terrein sou hulle sekerlik nie maklik gevind het nie.  Water was volop en die helling vir die watervore was ideal.

Met die negedaagse raadsitting wat te Potchefstroom op 22 Januarie 1850 ‘n aanvang geneem het en waarop Lydenburg verteenwoordig was deur Jacob de Clerq, P.E. Kruger, Philippus J. Coetser, W.F. Joubert, C. Potgieter, C. Viljoen, Piet Steenkamp, Jacob Lotter, L.J. Erasmus en W.H. Jacobs is die plaas Rietspruit nog ‘n keer bespreek en is ‘besloten en vasgesteld dat de plaats van Johannes J. Coetser ingetrokken is genaamd Rietspruit voor een dorp genaamd Lydenburg in die overzyde van Sterkspruit.’  Philippus Coetser was die enigste lid wat teen hierdie mosie gestem het (Ibid.: 34)

Aan Johannes word ‘n ander plaas aan die Komatie en twee erwe op die dorp toegeken.

Die nuwe dorp Lydenburg

“In het midden der dorp een blok van zes erfen …”

“Die aanleg van die nuwe dorp het ‘n aanvang geneem.  Die strate is beplan en uitgelê.  Die watervoor word deur veldkornet Jan M. de Beer uitgehaal.  Reeds in Mei 1850 kon hy sy beloning van 250 Riksdaalders daarvoor ontvang.  In 1853 is ‘n nuwe voor, weer deur de Beer met behulp van die swartmense van Sinkoeba uitgehaal.  Verskeie ander bouwerktake is ook aan de Beer opgedra, o.a. die skansmuur om die kantoor.

Die eintlike dorp het bestaan uit vier dwars, d.w.s. Noord-Suid strate en vier regaf, d.w.s. Oos-Wes strate.  Die regaf strate was Bűrman-, Kerk-, Mark- en Potgieterstraat.  Die dwarsstrate was Burger-, Kantoor-, Lang- en de Clerqstraat.” (Ibid.: 35)

Die Christelike inbors van die baanbrekers en hulle afhanklikheid van God word ook hier met die stigting van die nuwe dorp weerspieël deur die bepaling van die Volksraad dat “in het midden den dorp een blok van zes erfen sullen worden uitgehouden tot die plaatsen eener kerk, kantoor en mark…”

“In 1852 is die kerkgebou gedeeltelik voltooi.  Daaraan het Alexander Livingstone die messelwerk, Jacob Malan die klipwerk, Lewis Steyn die transportwerk en Koos Kruger die houtwerk gedoen.”  (Ibid.: 36)

Lydenburg geskiedenis 
Etlike persone koop erwe en begin met die bou van woonhuise; ook ‘n winkel of twee kom tot stand.

In die beginjare het Lydenburg maar swaar gekry en sy vooruitgang was teen ‘n slakkepas.  Min mense kon dit bekostig om dadelik ‘n stewige woning te bou en moes maar tevrede wees met ‘n soort hartbeeshuisie.  Hierdie primitiewe behuising het sekerlik nie ‘n goeie indruk geskep nie want dominee Van der Hoff, wat nie met die Lydenburgers oor die weg kon kom nie, skryf in 1854 aan Professor Lauts : Lydenburg… “is een ellendige nest …”  Indien hierdie Godsman slegs ‘n gedeelte van die setlaars se ontberings, verdriet en beproewinge van ‘n twaalfjaarlange trekkerslewe kon meemaak, sou hy heel waarskynlik sy pen in liefdevolle medelye gedoop het en nie so neerhalend oor hulle geskryf het nie.

In teenstelling met verskeie ander dorpe in die Noorde het Lydenburg stadig maar seker vooruit gebeur en tel dit vandag as een van die vooruitstrewendste plattelandse dorpe in Transvaal.

Die armoede van die vroeë jare het Lydenburg se groei gestrem; weens die giftige tsetsevlieg kon die handel met Delgoabaai nie vooruitgang maak nie; boere in die omgewing kon nie sommer binne die eerste jaar in alle behoeftes voorsien nie.  Kortom, Lydenburg sou vir ‘n hele aantal jare noustrop trek soos ‘n os in die juk.

Soos op talle plase in die omgewing word ook op Sterkspruit met alle erns geboer.  Die aanvanklik tydelike huisvesting maak plek vir opstalle wat met klip gebou word.  Stewige houtbalke word gebruik om die grasdak te dra; bebosde gebied maak plek vir landerye; landerye wat uit Sterkspruit besproei word.  Hierdie rivier het sy oorsprong in Mauchsberg, suid-oos van die plaas.  Die water is heerlik koel en soet, so asof dit fonteinwater is.

As waterfiskaal en bouer verdien Jan Mathys de Beer ekstra geld om die nodige plaasimplemente (indien beskikbaar, moet mens byvoeg) te bekom en ander uitgawes te bekostig.

Die nedersetters het, met die moed en ywer eie aan hulle, stadig maar seker vooruitgebeur en die omgewing leefbaar en winsgewend gemaak.

Vyf en twintig jaar na Lydenburg se stigting was daar alreeds heelwat stewige geboue op die dorp maar gedeeltes van die “ ellendige nest” het nog bestaan.

Die Coetsers se deelname aan die Politieke –en Kerklike lewe

“Zoo word dese onafhankliheidsverklaring voor vasgestel…”

Op 20 Mei 1851 is die eerste Volksraadsvergadering, onder voorsitterskap van W.H. Jacobs te Lydenburg gehou.  Die vergadering brom omdat die lede van Potchefstroom nie die vergadering bywoon nie.  Moontlik kan die afwesighede toegeskryf word aan die baie verpligtinge wat ook daardie lede gehad het ten opsigte van die boerderye.  Die afwesighede was maar een van die talle aspekte wat veroorsaak het dat daar in Maart 1857 die finale skeuring tussen Lydenburg (die Potgietergroep) en Potchefstroom (die Pretoriusgroep) sou kom.  Lydenburg het egter aangehou om handel met Holland te probeer tot stand bring.  Telkens as dit misluk, het hulle maar weer probeer.  Verskeie kommissies, waarvan Philippus Jeremia Coetser van tyd tot tyd lid was, is gestuur om met Goeweneur De Andrade te onderhandel.  Omdat hierdie man die nedersetters goedgesind was, kon daar later handelsbetrekkinge met die Portugese tot stand gebring word.  Met nuwe ywer kon die mense weer vorentoe beur.

Hierdie vroeë bewoners het ongetwyfeld ontstuimige dae beleef.  Konsensus vir samesmelting met Potchefstroom kon nie bereik word nie.  Pogings om eensgesindheid te verkry misluk en Lydenburg neem sake in eie hande.

Op 10 Maart 1857 vergader die Volksraad op die plaas Blinkwater aan die Steelpoortrivier en neem die volgende besluit:  “Zoo word deze onafhanklikheidsverklaring voor vasgestel en erkend verklaard en word by deze beslooten dat deze staat van heden af de naam sal dragen en voeren van: De Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika.”  Lydenburg funksioneer daarna vir 4 jaar as ‘n onafhanklike staat waarna samesmelting met Potchefstroom tog geskied. 

Op kerklike gebied is die woelinge nie minder troebel nie.  Omdat staat en kerk ‘n noue band gehad het, kon hierdie probleme ook stelselmatig opgelos word.

Die Coetsers is betrokke by die politiek sowel as die kerk en so lewer hulle ook hulle beskeie bydraes tot die welvaart en vooruitgang van die nuwe beskawing in Transvaal.

~~~~~~~~~~
Erkenning aan :
Ansie Kruger Coetser vir die tik van hierdie hoofstuk. 

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


Hoofstuk 4 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)


Die Slag van Bloedrivier   
Veg tot die end …

Verwoesting, moord en plundering bars los by Weenen en Blaauwkrans.  Man, vrou en kind word nie gespaar nie.  Bloed is geproe en die moordlustige barbare ruk op om nog verdere chaos te veroorsaak.  Die moorde op Piet Retief, 67 van sy manne, 4 jong seuns en omtrent 30 agterryers was die begin van hierdie bloeddorstige aanvalle deur die Zoeloes.  Alhoewel die Trekkers geglo het dat Gardiner, die Britse gesant in Natal, en die sendeling, Owen, Dingaan beïnvloed het, bestaan daar geen bewyse daarvoor nie. 

Die Coetsers spring hierdie beproewing vry omdat hulle laer af teen die Tugela was.  Maar die skokgolf van die wrede moorde tref hulle en die ander trekkers sodat hulle inderhaas nader aan mekaar beweeg om sodoende slaggereed vir ‘n soortgelyk aanval te wees.  Die toestand was teen die end van Februarie 1838 dus ver van rooskleurig.  “Die Zoeloemag van tussen agt- en tienduisend man, ervare krygsvolk, was in die nabyheid en die trekkers met hulle gesinne het gesidder.”    (Ibid.: 213)

Op 6 April 1838 het die boerekommando in twee afdelings onder Potgieter en Uys die Tugela in die rigting van Umgungundhlovu oorgesteek.  Onder die manskappe van Uys was die 18-jarige Philippus Jeremia Coetser en sy jonger broer, Johannes Jacobus.  Oorkant die Buffelsrivier word Uys en sy manskappe deur Bongos, ‘n Zoeloe, in ‘n lokval gelei.  Dit was ‘n moeilike en feitlik onbegaanbare terrein en kort voor lank is hulle deur die Zoeloes omring.  Na oorlewering is Bongos daar en dan vir sy verraad doodgeskiet.  Hans de Lange (Hans Dons) wou weet wat die plan is.  Uys antwoord: “Veg tot die end”.   Hulle skiet, retireer, val aan en skiet, maar die oormag is te groot.  Uys word deur ‘n assegaai in die sy getref en verloor baie bloed.  Twee assegaaie tref ‘n man met die naam van Le Roux en hy stort van sy perd af.  In dolle vaart spring Philippus met sy perd oor die lyk van Le Roux.  Aan die anderkant van die sloot slaag Philippus daarin om Andries Gouws, wat swaar gewond is, weg te kry.  Vier dooies moes hy agterlaat.  Vir Uys en sy seun, Dirkie was daar, helaas, geen uitkomkans nie en beide sterf ‘n heldedood op die slagveld.

Dit was die eerste veldtog teen Dingaan en ‘n ramspoedige mislukking.  Potgieter is die sondebok gemaak, en in sy eer geskenk het hy besluit om terug te trek na die wye land wat hy geruil en help verower het. “  (Ibid.: 213)

Philippus Coetser en talle ander burgers moes maar gedweë die vernedering verdra om as die “vlugkommando” bestempel te word.  Hulle sou wel later bewys dat hierdie betiteling onnodig en ongevraagd was.

Die koms van Andries Pretorius was vir die trekkers ‘n welkome gesig.  In hom het hulle ‘n Josua gesien wat die volk van die magte van Dingaan sou verlos.  Hierdie man het dan ook geen gras onder sy voete laat groei nie en binne ‘n  afsienbare tyd het hy ‘n kommando van 400 man gemobiliseer.  Onder hierdie burgers was Philippus Coetser en sy broer, Johannes Jacobus.

Die geskiedenis leer dat daar nie alleen op mensekrag staat gemaak is nie.  In die vaste geloof dat God regeer, het die kommando, onder leiding van Pretorius en Cilliers, op Sondag, 9 Desember by Wasbank byeengekom en ‘n plegtige gelofte afgelê.

Pretorius het op ‘n uiters geskikte plek aan die Ngome, die latere Bloedrivier – ‘n sytak van die Buffelsrivier – laer getrek.”  (Ibid.: 215).  Op Sondag, 16 Desember vind die slag van Bloedrivier plaas.  Reeds vroeg in die oggend word die een “horing” van die bors van die Zoeloemag te pletter geskiet.  Na ‘n kort onderbreking val die Zoeloes weer aan, maar ly soveel verlies dat hulle op die ou end die aftog blaas.

Ongeveer drieduisend Zoeloes sneuwel gedurende die vroeë oggendure van 16 Desember en Dingaan se mag is grotendeels gebreek.  Andries Pretorius doen opvolgwerk en die trekkers was vir die huidige in geen noemenswaardige gevaar nie.  Inteendeel, die grootste gevaar het by Port Natal gelê waar Majoor Charters reeds op 4 Desember met sy troepemag aangekom het. Goeweneur Napier het hom, sonder magtiging van Engeland, gestuur om, soos Andries Stockenstrőm dit voorgestel het, “die inboorlinge te beskerm en bloedvergieting te voorkom”.

Die laers aan die voet van die Drakensberge is opgebreek en na Pietermaritzburg verskuif.  So beland die Coetsers ook in hierdie omgewing en soos vele ander trekkers help hulle ook met die opbou van ‘n Voortrekkerstaat.

Philippus Jeremia Coetser onderskei homself vroeg-vroeg al as ‘n kenner van die Bantoetaal en word gevolglik deur die Volksraad as amptelike tolk aangestel.  (Volgens oorlewering is hy tydens die slag van Bloedrivier ook deur Pretorius as tolk gebruik).

Na alle waarskynlikheid het die Coetsers en hul stiefvader, Jan Mathys de Beer, landbouers geword, ‘n nering wat hulle die beste geken het.  Waar presies die grond was waarop hulle vir ‘n wyle geboer het, is nie bekend nie want met die tweede Groot Trek is die grond tien teen een net so laat lê of is dit dalk vir ‘n appel en ‘n ei van die hand gesit.

Op 3 November 1838 tree Philippus Jeremia Coetser met Johanna Adriana Venter in die huwelik.  Philippus het daarna met alle erns begin om sy eie nessie te skrop.  Dit sou egter vir sommige van die Coetsers nie beskore wees om in Natal wortel te skiet nie.  Die anneksasie van Natal het die gevaar ingehou dat die trekkers weereens onder Britse gesag sou staan.  Hiervoor het hulle nie kans gesien nie.  Die grond was duur gekoop - met bloed!

’n Vrouedeputasie, met Erasmus Smit se vrou aan die hoof, het Cloete verseker dat hulle nooit aan die Britse gesag sou onderwerp nie, en waar verset tevergeefs mag wees, sou hulle liewer ‘kaalvoet oor die Drakensberg teruggaan na vryheid’ as om onder Britse bestuur in Natal te bly”.  (Ibid.: 229)

In 1843 besef die trekkers maar te goed dat Natal vir hulle verlore was.  Voorbereidings vir ‘n tweede Groot Trek word getref en sommige van die Coetsers skaar hulle by hierdie besluit.

Jan Mathys de Beer, sy gade Elsje Magdalena Jordaan, en die hele Coetser gesin kom tot die besef van die hopelose toestand in Natal as gevolg van Britse inmenging.  Die gevolg:  Pak die waens en trek!

Die voorafgaande gebeurtenisse, hier in ‘n neutedop saamgevat, word in Hoofstuk 6 in die artikel oor Kaleshaan, in meer detail herhaal.

~~~~~~~

Erkenning aan:
Ansie Kruger Coetser  vir die tik van hierdie hoofstuk.   
Foto: Die slag van Bloedrivier  


Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


Sunday, August 28, 2011

Hoofstuk 3 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)


Die Coetsers en die Groot Trek

http://sa-different-perspective-on-apartheid

1836! 

Die Groot Trek is ’n voldonge feit. Was daar nie tog iets wat die beweging kon stuit nie? Kon die Britse owerheid nie meer tegemoetkomend en bedagsaam opgetree het nie? Weliswaar nie. Hulle het enersyds nie die vermoë gehad nie en andersyds nie simpatie met die blanke grensbewoners gehad nie.

“Die inval deur die swartmense in 1834, die verliese daardeur gely en die nie-betaling van die beloofde skadevergoeding ná die oorlog, nádat die burgers hul diensplig met groot opoffering nagekom het, het hulle geruïneer en verbitter gelaat.” (Van der Walt et al., 1977:193)    

“Die vervanging van Hollands deur Engels as amptelike landstaal en die afskaffing van die howe van landdros en heemrade, waarmee die Koloniste vertroud was, het die verkeer met die administrasie bemoeilik. Die onbekende regsprosedures met die vreemde taal van die nuwe howe, hoe goed hulle origens was, het regsverkryging bemoeilik. Die groot meerderheid van die blanke bevolking het hulle vreemdelinge in hulle eie land gevoel. Om en by 1834 het die ontevredenheid met die Brits bewind sy hoogtepunt bereik.” (Ibid.” 196) 

So begin die mobilisering van die Trek deur manne soos Louis Trichard, Hans van Rensburg, Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, Sarel Cilliers en ander. ’n Omvangryke taak lê voor en vanaf 1834 tot vroeg in 1836 word die nodige voorbereidings getref wat uiteindelik in 1836 ’n hoogtepunt bereik.

“Die Groot Trek was in sy wese die eerste groot mobilisasie van ’n deel van die Afrikanervolk met ’n weloorwoë en goedbegrepe doel; die stigting en uitbou van ’n vrye en staatkundige onafhanklike staat, waarin hulle volgens eie tradisies en onder eie wette kon leef.” (Ibid.: 198)

In 1836 is die Coetsers met hul stiefvader, Jan Mathys de Beer, gereed om te vertrek. Jan Mathys se eggenote, Elsje Magdalena Jordaan, was getroud met Johannes Jacobus wat in 1834 oorlede is. In vaste vertroue op die Hoër Hand en die toekoms wat voorlê word die swepe geklap en hul twee waens kom in beweging. Phillipus Jeremias, Elsje se 17-jarige seun, loop saam met sy stiefpa langs die waens.

Gerrit Maritz
Jan Mathys de Beer was ’n stoere boer met goeie leiereienskappe en is as leier van die klein groepie van 15 waens aangestel. Hulle trek oor die Oranjerivier waar hulle ’n wyle vertoef om die trekvee kans te gee om aan te sterk. Intussen daag die trek van Gerrit Maritz vanaf Graaff-Reinet op. Jan Mathys de Beer sluit met sy groepie by hulle aan.

Die aankoms van Maritz in Transoranje het ’n aansienlike versterking van die gemeenskap, wat reeds heelwat veeverliese gely het, beteken.

Die Coetsers beweeg saam met die Maritz-trek en slaan laer op by Sooilaer, Veglaer, ens. Die geskiedenis leer ook van die ontberings wat hierdie trekgeselskappe ondervind het; van die moord by Blaaukrans en Weenen; van die verraad van Dingaan; die herhaalde inmenging van die Engelse en talle ander ellendes.


Piet Retief


“Die agting wat die boere vir Maritz gehad het, was die gevolg dat hy as President en Regter verkies was, met Potgieter as laer-kommandant. Met die aankoms van die ander trekke was dit ’n uitgemaakte saak en so het Maritz ook gevoel, dat Piet Retief as die nuwe leier verkies moet word.” (Ibid.: 206)     

Hendrik Potgieter

debruinfamily.com: DieGrootTrek - Pieter Retief

 Agtergrond geskiedenis en krediete vir foto's:
Hendrik Potgieter

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html




Hoofstuk 2 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg


Jacob Kützer se Nasate in die Kolonie


Die families word groter en groter; die kuddes word groter; die plase kan nie meer almal onderhou nie. Die gevolg is dat die bakens verder ooswaarts verskuif; meer grond word benodig; groter en beter weivelde word benodig en so vind ons ook onder Jacob se nasate ’n groep wat stelselmatig ooswaarts beweeg.

Sommige beoefen een of ander beroep en bly dus in die dorpe agter waar hulle huise bou, trou en kinders grootmaak en oor die algemeen aan die aktiwiteite van die dorpslewe deelneem.

Aan die einde van die agtiende eeu bevind heelparty nasate van Jacob hulle aan die Oosgrens. Sommige in die omgewing van Graaff-Reinet, Tarka, Craddock, Klaas-Smithsrivier, om maar net ’n paar plekke te noem. Soos so baie ander boere ondervind hierdie families probleme met die swart stamme en die Boesmans. Strooptogte op die landerye, maar veral die veediefstalle, besorg heelwat ellende en armoede. Die grensboere het hulle hande vol gehad om die strooptogte aan bande te lê, die vee te beskerm, die boerdery aan die gang te hou en talle ander probleme. Hulle pleidooie om hulp van die regering het dikwels op dowe ore geval en meestal was hulle vir hul voortbestaan op eie geledere aangewys. Hierdie maatreël het heel dikwels rampspoedige gevolge gehad omdat die Britse regering die Grensboere swaar beboet het wanneer hulle ‘wet in eie hande neem’ om hulle mense en besittings te beskerm.

Die Engelse regering se onvermoë om sy verpligtinge in ’n land wat hy ‘verower’ het na te kom, was alte duidelik. Gevolglik was die aangewese oplossing vir die Grensboere om te verhuis na plekke wat nie onder die Britse regering geval het nie. Plekke waar hulle gehoop het hulle nie probleme sou hê met roof, moord en geweld nie, waar hulle hul eie sake kon behartig en in rus en vrede hulle kinders kon grootmaak. Die kreet, ‘Trek noord!’ het later al hoe sterker geword.

Van die eerste Coetser-families wat op die Oosgrens beland het, was Wenzel Coetser en sy gade Jacoba Jordaan. Hulle boer op die plaas Elandsdrift in die vallei van die Tarka. Soos meeste van die grensboere was hulle ook eenvoudige en gasvrye mense. In 1820, op een van sy reise deur die Kaapprovinsie, ontmoet Thomas Pringle en sy reisgeselskap hierdie Coetser-familie.

Die huis, plaas en leefwyse, wat redelik verteenwoordigend van die ander grensboere was, maak ’n groot indruk op Thomas Pringle, sodanig dat hy in sy artikel ’n breedvoerige beskrywing van die huis, plaas en leefwyse van Wenzel en sy gesin aanteken.     

Die seun ‘Arend’ waarna verwys word, was heelwaarskynlik die bynaam van Welhelmus Johannes – toe 10 jaar oud – en die twee dogters was moontlik Jacoba Susanna eb Cornelia Aletta Sophia – albei baie knap met naald en garing.

In die omgewing van Cradock is daar verskeie Coetser-families, onder andere op die plaas Coetserskloof en Coetserfontein. In die Graaff-Reinet distrik vind ons die plaas Trompettersdrift waar Gerhardus Coetser en sy gade Christina Johanna Fouche boer. Baie grensboere, soos Gerhardus en sy gesin, het nie die Trek meegemaak nie en dit was met die hulp van hierdie boere dat die Britse regering ’n mate van orde aan die Oosgrens kon skep.

Gerhardus en sommige van sy seuns neem aan verskeie “Kafferoorloë” (soos wat dit destyds genoem was) deel en word later vir hierdie werk met plase beloon. Paul Petrus Johannes, tweede oudste seun van Gerhardus en Christine, tree as gids vir die Engelse op en neem aan verskeie oorloë teen die swart stamme deel. Hy is gebore op 21 Maart 1819 en tree in die huwelik met Johanna Hendrina Els. Voor sy troue was hy ’n gesiene veeboer op Trompettersdrift. Tydens die oorloë teen die swart stamme en die Hottentotsopstand van 1850-1857 is die Coetsers se huise by Dubbeldrift geplunder en afgebrand en toe die gebied tussen die Vis- en die Keiskamarivier na afloop van die stryd in plase uitgegee is, het hulle hul op die historiese Fort Willshire aan die Keiskamma gevestig. Gerhardus en Christina is daar oorlede en begrawe.

Vir sy dienste as gids vir die Engelse het Paul ’n plaas ontvang wat hy Kemp genoem het, waarskynlik omdat J.T. Kemp ’n skool op hierdie plaas opgerig. Paul was ’n gesiene lid van die samelewing tot met sy heengaan op 26 Oktober 1909. Die ‘Gebeutenisse uit die Kafferoorloge’ (sic.) is deur Paul aan ’n sendelingonderwyser, Lourens de Beer, gedikteer en die oorspronklike uitgawe het in 1889 by D.F. du Toit en Kie van die Paarl verskyn. Slegs ’n beperkte aantal van hierdie boekies het die lig gesien en vandag is dit uiters moeilik om ’n eksemplaar te bekom. Skrywer was gelukkig om by een van die nasate van Paul Petrus Johannes, Generaal-Majoor Tjokkie Coetser, die oorspronklike uitgawe ter insae te kry. Dit loon enige persoon die moeite werd om hierdie geskiedenis van die Oosgrens te lees om sodoende ’n idee te vorm van die probleme waarmee die Grensboere te kampe gehad het.   

Die ellende van die Oosgrens moet nie onderskat word nie en ’n mens vra die vraag: Kan jy die daardie boere blameer dat hulle besluit het om te trek? Trek was as’t ware die enigste uitweg tot selfbehoud, selfrespek en ’n veilige toekoms vir die kinders.

Sir Harry Smith en Sir Andries Stockenström het met hul burgerkomandos ’n groot aandeel in die oorloë aan die grens gehad. Sonder die hulp van die Grensboere sou hulle stryd egter wanhopig en moontlik tevergeefs gewees het. Die 1820-Setlaars se aandeel in die skep van orde en rus moet ook nie onderskat word nie. Die laaste oorlog teen die swart stamme vind in 1853 plaas waarna daar ’n mate van rus en voorspoed ontstaan. Die Oosgrens was getem, veilig gemaak vir die nageslag wat sou kom en vir die Boere het ’n tydperk van vooruitgang aangebreek.

In hierdie proses van ‘skoonmaak’ en ‘leefbaar’ maak het die Coetsers ’n reuse-aandeel gehad. Dikwels moes sommige van hulle magteloos toekyk hoe ’n plaas en opstal verbrand word. Ander weer is tydens skermutselings swaar gewond en het by die dood omgedraai. Maar soos meeste ander grensboere was hierdie nasate van Jacob taai en geharde mense wat die gevaarlike en veeleisende lewe aan die grens met durf en geloof kon aanpak.

So vind ons in die jaar 1834 – 125 jaar na die aankoms van Jacob in Suid-Afrika, dat die Coetsers en Coetzers wyd en syd oor die Kolonie versprei het. Jy het gekry in Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam, Drakenstein-distrik, Paarl, Graaff-Reinet, Cradock, Tarka, Klaas-Smithsrivier-distrik en talle ander plekke. Die meeste van hulle was landbouers en veeboere. Ander weer het een of ander beroep in ’n dorp beoefen.

Dat hulle hul plek in die samelewing volgestaan het, is ongetwyfeld waar. Baie het hul stempel op die verloop van die geskiedenis afgedruk en baie wat nog sou kom, sou hulle merk maak.

In die Kerkbode van 1 September 1948 plaas dominee H.C. Hobkins ’n artikel onder die opskrif ‘’n Skakel met die Verlede’. Dit is ’n getuigskrif van ’n stoere en Godvresende voorsaat van weleer, oom Willem Coetzer en skrywer is die mening toegedaan dat ’n soortgelyke getuigskrif op meeste van Jacob se nasate van toepassing sou wees.

’n Paar interessanthede uit die artikel van ds. Hobkins word hier aangehaal:

“In oom Willem het ons gemeente en hierdie dele ’n skakel met die woelige verlede wat spreek van die ontberinge wat die bewoners van die destydse grens van die blanke Kolonie moes deurmaak. Sy vader, Paul, het vir sy groot dienste ook ’n plaas van die regering ontvang en op hierdie plaas is oom Willem in 1858 gebore. Die vertellinge van sy vader, wat meeste van die Kafferoorloë  meegemaak het, onthou nog goed. In die opbou van die gemeentelede het oom Willem ’n groot rol gespeel. Reeds in 1884 onder wyle ds. B.B. Keet het hy sy plek in die kerkraad volgestaan.

Oom Willem word in groot agting gehou en hy betaal dit terug met liefde en met sy gebede. Ons is dankbaar vir sy soort wat nog hier en daar in ons gemeentes oorgebly het om ons te herinner aan die verlede en ons dan te inspireer vir die toekoms. Hulle voorbeeld is vir ons ’n besieling. Ons bring aan God al die eer vir so ’n lang en vrugbare lewe.”

Erens aan die Klaas Smithsrivier vind ons nog ’n nasaat van Jacob - Johannes Jacobus Coetser. Hy en sy gade, Elsje Magdalena Jordaan, staan te midde-in die stryd op die Oosgrens en spook en spartel om kop bo water te hou. Die verbittering het ’n hoogtepunt bereik en die gesin is besig om gereed te maak vir die Groot Trek.    


Invoegsel deur Martie Coetser-Pozyn op 08/08/2011: Die woord ‘kaffer’ beteken ‘heiden’ en word al etlike jare geklassifiseer onder ‘haatspraak’. Dit was egter die benaming van die oorloë van destyds. Dit was ook deel van titels (beskrywings) van politieke sake wat betrekking gehad het op die swart inboorlinge van Suid-Afrika. Dit was die algemene naam vir ‘swartmense’, soos wat Boere vandag nog ’n algemene naam vir Suid-Afrikaanse witmense is en Engelse vir Engelse witmense. Daarom verander ek dit nie na die naamwoord vir swartmense wat veral sedert 1994 as aanvaarbaar beskou word nie, naamlik ‘Afrikaan / Afrikane’. Ek vra egter dat die gebruik van die woord nie beskou moet word as ’n implikasie dat die skrywer rassisties was nie. My pa, P.J. Coetser, het die belange van swartmense op die hart gedra en was hart en siel ’n sendeling wat in sy vry tyd menige ontwikkelingsprojekte in swart gemeenskap met groot sukses aangepak het. Hy kon Sesotho vlot praat en was trots op die bynaam ‘moruti’ (dominee) wat aan hom gegee was deur die swart mense met wie hy te doen gehad het.  

Stawing van geskiedenis & erkenning vir foto's: 
Die Kaapkolonie

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


Sunday, August 21, 2011

Hoofstuk 1 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

Jacob Kützer



  1. Die onversadigde lus na grond en groter gebiede deur die monarge van die tydperk het gelei tot oorloë en heelwat onrusbarende woelinge wat onder andere ook die bevolking van Oostenryk onrustig gestem het. In 1700 breek ’n oorlog uit wat Swede, Duitsland, Denemarke, Rusland en ander lande vir baie jare in ’n wurggreep van verwoesting en bloedvergieting hou. Koning Charles die Twaalfde het genoemde gebiede aangeval. In 1706 verslaan hy die laaste Saksies-Poolse weermag by Fraustadt en trek daarna sy troepe langs die Oostenrykse grens saam. Oostenryk het alle rede om bekommerd te wees. Beroof van al haar troepe en nog gekwel deur die Rakoczy Rewolusie in Hongarye, kon sy onherkenbare skade gely het deur ’n aanval van Charles die Twaalfde en sy Sweedse leër.” Die gevolg was dat honderde families en ook van die oorblywende soldate na veiliger gebiede gevlug het. Die voorafgaande gebeure, in ’n neutedop saamgevat, laat die vermoede ontstaan dat ‘Setri by Weenen’ ’n militêre basis was. Wat die vermoede nog verder staaf, is die outobiografie van die vermaarde skilder W.H. Coetzer. Hierin maak hy melding van ‘Sentri by Weenen’. Tydens die jare wat Coetzer die skilderkuns bestudeer het, het hy Oostenryk, Duitsland en ander plekke besoek. Dit is dus dan heel moontlik dat hy met sy besoek aan Oostenryk die ligging van ‘Setri’ vasgestel het. Sentry is waarskynlik ’n meer korrekte spelling van die naam.
  1. Na die afsterwe van Jacob Kützer in Junie 1742 het Susanna Snyman op 7 Julie 1742 die testament by die Kaapse Weeskamer ingehandig. (Op die oorspronklike dokument word na ‘Cabo’ verwys.) Daar is toe ’n afskrif van die testament gemaak en die klerk het ook ’n soort van kwitansie aan haar uitgereik om ontvangs van die dokument te erken. Op hierdie kwitansie word Jacob se plek van herkoms as ‘Setri by Weenen’ aangegee. Bokant hierdie naam staan ook Reichstadt geskryf. Reichstadt is egter verkeerd gespel en dit laat die vermoede ontstaan dat ‘Setri’ ook verkeerd gespel is.
  1. Dit is heel moontlik dat Susanna ná soveel jare vergeet het waar haar gade presies vandaan gekom het, of ten minste wat die korrekte spelling van die dorp was.

xxxxxxxxxxxx


Jacob, die eerste party, is fris en gesond van liggaam. Cornelia, die tweede party, is siek en bedlêend. Albei is egter verstandelik gesond en by hul volle positiewe. Die testament word ongedwonge deur hulle opgestel.



Cornelia was die tweede oudste kind van Hans Helm en Geertruy Willemse wat op 28 September 1670 in die Nederlandse Hervormde Kerk van Amsterdam getroud is en in 1671 na Suid Afrika verhuis het. In die Kaap het Hans en Geertruy bekend gestaan as Hans HELMIS en Gerretje WILLEMS.

Die oorsprong van die naam Kützer

“Die voertuig bekend as die koets is vir die eerste maal ontwerp in die Hongaarse dorp Koszi naby Raab.” (Theunessen, 1946: 23 en 35.) Die ligging van Raab is ongeveer 47° 30’ noorder-breedtegrade en 17° 3’ lengtegraad. Om en by 320 kilometers vanaf Raab in ’n noordwestelike rigting is Wenen in Oostenryk. 


“Van Koszi het die koetsboukuns versprei na ander lande. In Duitsland het koetsbouers dikwels die van Kutscher aangeneem. Die naam Kützer het sy oorsprong in die suide van Duitsland in die provinsie wat destyds as Boheme bekend gestaan het.” (Ibid.: 23).
.

Die Coetsers en Coetzers





Die stamvader van hierdie families was Jacob Kützer. Hy arriveer ongeveer Augustus-September in 1709 in Suid-Afrika tydens die bewind van Goewerneur Louis van Assenburgh.

In sommige geskrifte word sy plek van herkoms as ‘Setri by Weenen’ aangegee. Niemand kon tot dusver presies vasstel waar Setri geleë was nie. Na aanleiding van sekere gegewens wat tydens navorsing aan die lig gekom het, het skrywer tot die volgende gevolgtrekkings gekom:


Al bogenoemde bespiegelinge en afleidings maak Punt 1 meer aanvaarbaar en die feit dat Jacob sy dienste as soldaat by die Kaap aangebied het, is vir skrywer eintlik voldoende bewys dat hy wel van ‘Sentri by Weenen’ afkomstig was.

Daar is geen twyfel waar Jacob se ouers gewoon het en hy grootgeword het nie. Immers, in die testament van Jacob en Susanna Snyman word duidelik aangegee dat sy vader Wenceslaus Kützer woonagtig was te Reichstadt in die Duitse provinsie Boheme.

Invoegsel op 08/08/2011. Nagevors deur genealoog, Johann H Claassen: Setri is in Noorweë by 59 31 77 N 17 52 12 O. Die Politieke Raad (1729) dui egter aan dat Jacob Kützer van naby Weenen, Oostenryk af kom om as ’n ‘soldaat’ in Suid-Afrika diens te doen. Hulle sê dat hy met die skip Noordhoek gekom het, maar daar het nie so 'n skip in die Kompanjie bestaan nie.
Geskiedenis van Noorweë: (Te lees in Wikipedia)


 Jacob die Vakleerling in Kaap de Goede Hoop

“Jacob was lid van die Burgerwag - ook ‘Ratelwag’ genoem – wat deur Simon van der Stel in die lewe geroep is. Hierdie ‘wag’ moes die stad tydens nagtelike ure bewaak. Die manne was gewapen met gewere, lanterns en ratels en het die onverligte strate gepatrolleer onderwyl hulle die slapende burgers ‘Wel te rusten!’ toeroep. Sodra hulle die geringste stoornis of tekens van ‘kwade bedoelinge’ opmerk, het hulle hul ratel ingespan em luidkeels ‘Moord! Diefstal!’ of iets dergeliks uitgeroep.” (Collier, 1961:12)

“Dit was hulle taak om straatgevegte en diefstal te voorkom, hulp te verleen aan die dronk matroos wat dalk in ’n watersloot kon val, die sluise van die slote in stormagtige weer oop te maak en die slaaf wat sonder ’n pas van sy baas op straat was te arresteer.” (Ibid.: 13)  

Hulle moes natuurlik ook gereed wees vir ’n moontlike aanval deur een van die vyf Hottentotstamme wat in die omgewing ’n nomadiese bestaan gevoer het.

Na vier jaar diens as soldaat kry Jacob die vergunning om as ’n Algemene Werksman – Tappersknecht – opgelei te word. Die vergunning is deur Goewerneur William Hellot goedgekeur. Op Donderdag 14 September 1713 word ’n nuwe kontrak deur die Hoofklerk, Hugo van der Meer-Pietersoon, opgestel tussen Jacob en die destydse regering aan die Kaap de Goede Hoop. Die kontrak in ’n neutedop lees soos volg:

“Magtiging word aan die herbergier, Johannes Pythuis, verleen om Jacob in sy diens te neem en hom op te lei as tappersknecht en ‘tot wat redelike diensten hem verder mogte benodigen’.’ Die besoldiging is tien gulden maandeliks. Bo en behalwe voedsel en drank kry Jacob ook ‘goede huisvestinge’.  Voorts moet hy gereeld sy dienste by die Kasteel aanbied. (Klaarblyklik om steeds diens as Lid van die Burgerwag te verrig.)

Twee assistent-klerke, Benjamin Wiese en Gysbert van Groenenberg, teken as getuies. Jacob onderteken ook die dokument en sover vasgestel kan word, is dit die enigste dokument in die Kaapse Argief waarop sy handtekening voorkom.

Die besoldiging wat Jacob as Tappersknecht ontvang het, klink bra min, maar in die vroeë jare aan die Kaap het 10 gulden baie waarde gehad. Byvoorbeeld kon ’n os vir 25 gulden gekoop word, wat in 1989 ongeveer gelykstaande is aan R4.
Vir 2-3 gulden kon ’n goeie pak klere gekoop word en vir 3 gulden kon ’n persoon vir een nag in die herberg oorslaap, etes en ’n koue of warm bad ingesluit. Jacob het dus in vandag se geld vir R1,60 per maand by Pythuis gewerk. Die soldy wat hy as soldaat ontvang het, is onbekend.

Jacob lewer bevredigende werk want na slegs 10 maande en 17 dae, op 31 Julie 1714, bekom hy die status van Vryburger en ontvang ’n plaas in die omgewing van Stellenbosch. Vir ongeveer 20 jaar bly hy ’n lid van die Burgerraad van Stellenbosch en Drakenstein. Hy het besonder belang gestel in die welsyn van die minderbevoorregte boere.

Hierdie arm boere het in Julie 1725 ’n versoekskrif om geldelike hulp aan die regering gerig. Te oordeel na Jacob se twee testamente waarin hy telkens ’n som geld aan die Diakonie van Stellenbosch bemaak het, juis om die armes te help, is dit ook waarskynlik dat hy op ander maniere gehelp het om die arm boere se las in ’n mate te verlig.

Sedert 5 Mei 1733 was Jacob die kaptein van die Burgerdragonders van Stellenbosch. Hierdie feit maak dit moontlik om te veronderstel dat Jacob se plaas nie baie ver van Stellenbosch geleë was nie, aangesien hy anders nie sy pligte as kaptein na behore sou kon verrig het nie.   

Jacob en Cornelia Helm(s)

Op 15 September 1717 tree Jacob Kützer in die huwelik met Cornelia Helm (soms ook geskryf HELMS of HELMES). 

Hulle dogter, Cornelia was eers met Jan van den Bosch getroud, uit welke huwelik drie kinders gebore is – Johanna, Catharina en Johannes. Johannes is jonk oorlede. Johanna is drie keer getroud – eers met Johannes Bocklenberg, daarna met Maurits van Staden en laastens met Jurgen Hanekom. Die tweede dogter, Catharina, is met Albert van Emmenes getroud. Hulle het vier kinders gehad – Gerrit, Cornelia, Geertruy en Johannes.

Jan van den Bosch is heelwaarskynlik jonk oorlede, want Cornelia trou later met Arie (Adriaan) van Wyk. Die volgende kinders word uit hierdie huwelik gebore – Roelof, Aletta, Willem, Sara, Adriaan, Maria, Catharina en Hester.

Maar weereens word Cornelia in rou gedompel toe Arie haar ontval. Sy trou vir ’n derde en laaste keer met Jacob Kützer. Cornelia, wat reeds in haar laat dertigs was, skenk aan Jacob slegs twee kinders – Johannes Jacobus en Dorothea. 

Dit is moeilik om te bepaal waarom Jacob nie sy vader, Wenceslaus, vernoem het nie. Dit was immers ’n vaste reël dat ouers hul kinders vernoem: Die oudste seun kry die oupa aan vaderskant se naam, die tweede seun kry die oupa aan moederskant se naam en die derde kry sy vader se naam. Daaropvolgende seuns word na die ooms aan beide kante vernoem. Met die dogters was die reël soortgelyk: Die oudste dogter kry die ouma aan moederskant se naam, die tweede dogter kry die ouma aan vaderskant se naam en die derde haar moeder s’n. Die daaropvolgende dogters word na hul tantes vernoem.

Ten opsigte van Jacob se oudste seun kan die volgende afleidings gemaak word: Johannes Jacobus is óf ’n kombinasie van Hans (Helm) en Jacob se name, of dit is heel moontlik dat die seun na Jacob vernoem was en dat Jacob se volle name Johannes Jacobus was.

Omdat Cornelia alreeds haar ouers en sommige oom en tantes vernoem het, is dit heel moontlik dat Jacob se dogter, Dorothea, na sy moeder vernoem is.

Jacob en Cornelia se huwelik was maar kortstondig van aard want in Mei 1720 word sy ernstig siek. Haar toestand versleg tot so ’n mate dat sy Jacob versoek om reëlings te tref sodat ’n testament opgestel kan word. Jacob slaag daarin om die verteenwoordigers van die Weeskamer, Mnr. Frans Louis van Gros en sy assistent, by hom aan huis te kry om die nodige dokumente op te stel. Hy reël ook met Jan Zenderer van Westenhout en Hendrik Lootz, waarskynlik sy naaste bure, om as getuies op te tree.

Al hierdie persone vergader op 23 Mei 1720 om 10h00 die oggend om die bed van Cornelia, waar sy en Jacob hulle gesamentlike testament opstel. Dat beide ’n Christelike inbors gehad het, spreek duidelik uit die inhoud van die testament.

In ’n neutedop lui die testament van Jacob en Cornelia soos volg:


Albei erken hul afhanklikheid van God en wil dit wat deur die Almagtige aan hulle geleen is en nog verleen sal word, op ’n wettige wyse aan hulle kinders bemaak.

Hulle bemaak ook 25 gulden aan die diakonie van Stellenbosch. “Eestelyk legateuren en te maken zy testateuren yden in ’t besonder een summa van vyf-en-twintig gulden indiese waarde van de diakonye armen van Stellenbosch, ommeses wereen naar de dood van een yden uytgekeert te werden aan voorgenoemde diakonye...”

Voorts verdeel Cornelia haar geld en goedere in 13 gelyke dele, dit wil sê die 12 kinders plus Jacob. Die langslewende word as eksekuteur van die boedel aangestel met dien verstande dat die kinders ’n Christelike opvoeding sal ontvang.

Ook word bepaal dat indien Jacob sonder kinders sou sterf, hy/sy vader Wenceslaus Kützer, indien nog lewe, as sy wettige erfgenaam aanstel.

Om egter gerustheid van gemoed oor die testament en die uitvoering van die bepalinge daarvan te hê, word die heemrade Pieter van de Byl en Daniël Pheil as toesighoudende voogde aangestel.

Hierdie testament van Jacob en Cornelia Helms word op 21 Junie 1720 by die Weeskamer aan die Kaap ingehandig wat daarop dui dat Cornelia gedurende die eerste helfte van Junie oorlede is.

Jacob en Susanna Snyman

In 1722 (presiese datum onbekend) tree Jacob met Susanna Snyman in die huwelik. Haar ouers was Christoffel Snyman en Margaretha de Savoy. Die vader van Margaretha was Jacques de Savoy van Aeth, 'n Franse vlugteling. (Die foto is nie van Jacob en Susanna. Bron: Wikimedia Commons/Felicitas Sanchez)
Jacob en Susanna word met agt kinders geseën. 

Hulle stel kort ná hul huwelik ’n gesamentlike testament op, vervolgens in ’n neutedop:

Albei die testateure is terdeë bewus van die sekerheid van die dood en die onsekerheid van die lewe en daarom wil hulle die besittings van die Almagtige aan hul verleen het op ’n wettige wyse aan hul kinders bemaak.

Ook in hierdie testament is Jacob se eerste prioriteit die diakonie van Drakenstein. “Zoo legateuren maken en bespreken de testareunen voor eers aan de diakonie armen van Drakenstein ydens een somme van vyf-en-twintig gulden of vyftig te same om de een helfte na de dood van de eerssterwende en de ander helfte na’t overlyde van de langslewende uitgekeert te word...”

Bo en behalwe die wettige deel van die erfporsie wat Johannes en Dorothea toekom, bemaak Jacob aan albei ’n bedrag van vyfhonderd gulden “als een gift gereken”. (Dit wil dus voorkom of Jacob in hierdie stadium reeds ’n vermoënde man was.)

Jacob bemaak, indien hy die eerssterwende is, sy besittings roerende en onroerende, aan sy vrou en enige kinders wat uit die huwelik gebore sou word. Susanna maak ’n soortgelyke bepaling: Indien Jacob sonder kinders sou sterf, moet sy gedeelte aan sy vader, Wenceslaus Kützer, uitgekeer word. Indien Susanna sonder kinders sou sterf, moet haar gedeelte aan haar moeder, Margaretha de Savoy, uitbetaal word.  

Die langslewende word as eksekuteur van die boedel aangestel en ook as voog oor die kinders met dien verstande dat die kinders ’n Christelike opvoeding moet kry.

As toesighoudende voogde en mede-eksekuteurs word Theunis Botha en Wouter de Vos benoem. As getuies teken die burgers Roelof Jonatz en Jan van Ellewee.

Hierdie testament word op 7 Julie 1742 by die Weeskamer in die Kaap ingehandig. Die toenmalige sekretaris, Mnr. Van Plesjin, het ’n afskrif daarvan gemaak. Die handtekening van die betrokkenes kom nie op die afskrif voor nie; nadat die oorspronklike dokument met die hand gekopieer is, is dit weer aan die wettige eienaars teruggegee.

Gelukkig het die afskrifte behoue gebly, maar ongelukkig sonder die handtekeninge. Hierdie dokumente word in die argief te Kaapstad bewaar.

Die inhandiging van die testament by die Weeskamer op 7 Julie 1742 dui daarop dat Jacob Kützer gedurende Junie 1742 oorlede is.

Dit blyk duidelik dat die dokumente wat daar van Jacob beskikbaar is dat hy ’n toegewyde Christen en hardwerkende persoon was. Dat sy boerdery ook ’n sukses was, spreek uit die bedrae geld wat hy in sy tweede testament aan sy kinders kon maak.

Waar het die geld vandaan gekom? Die afsetgebiede vir plaasprodukte tydens hierdie tydperk was sekerlik nie te groot nie en meeste boere was seker aangewese op die altyd toenemende aantal skepe wat aan die Kaap aangedoen het om vars water en groente op te laai. Dit is dus moontlik dat, afgesien van die plaaslike mark, die voorsiening van produkte aan die skepe Jacob se grootste bron van inkomste was.

Alles in ag geneem, kom ’n mens by die nabetragting van die beskikbare inligting tot die gevolgtrekking dat Jacob ’n respektabele man was.

Die kinders van Jacob en Susanna

Sedert die stigting van die blanke beskawing aan die Kaap tot ongeveer die begin van die negentiende eeu is min kinders se geboortedatums in kerke se doopregisters aangeteken. Slegs die datum van die doopregistrasie was aangeteken. Na gelang van die omstandighede van die nedersetters – byvoorbeeld vervoerprobleme, afstand van die naaste kerk, arbeidsprobleme op die plase en vele ander probleme – het dit soms gebeur dat ’n gesin per geleentheid dorp toe gegaan het om tot vier kinders te laat doop. Om dus die werklike ouderdomme van die vroeë pioniers te bepaal, is nie altyd moontlik nie.

Hoe dit ook al sy, Jacob het nie probleme met die doop van sy kinders ondervind nie omdat hy redelik naby Stellenbosch gewoon het. Daar kan dus met vertroue aanvaar word dat hy sy kinders laat doop het binne ’n maand of twee ná geboorte.

Stamregister van Jacob Kützer: Kinders en kleinkinders: