Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Sunday, August 21, 2011

Hoofstuk 1 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

Jacob Kützer



  1. Die onversadigde lus na grond en groter gebiede deur die monarge van die tydperk het gelei tot oorloë en heelwat onrusbarende woelinge wat onder andere ook die bevolking van Oostenryk onrustig gestem het. In 1700 breek ’n oorlog uit wat Swede, Duitsland, Denemarke, Rusland en ander lande vir baie jare in ’n wurggreep van verwoesting en bloedvergieting hou. Koning Charles die Twaalfde het genoemde gebiede aangeval. In 1706 verslaan hy die laaste Saksies-Poolse weermag by Fraustadt en trek daarna sy troepe langs die Oostenrykse grens saam. Oostenryk het alle rede om bekommerd te wees. Beroof van al haar troepe en nog gekwel deur die Rakoczy Rewolusie in Hongarye, kon sy onherkenbare skade gely het deur ’n aanval van Charles die Twaalfde en sy Sweedse leër.” Die gevolg was dat honderde families en ook van die oorblywende soldate na veiliger gebiede gevlug het. Die voorafgaande gebeure, in ’n neutedop saamgevat, laat die vermoede ontstaan dat ‘Setri by Weenen’ ’n militêre basis was. Wat die vermoede nog verder staaf, is die outobiografie van die vermaarde skilder W.H. Coetzer. Hierin maak hy melding van ‘Sentri by Weenen’. Tydens die jare wat Coetzer die skilderkuns bestudeer het, het hy Oostenryk, Duitsland en ander plekke besoek. Dit is dus dan heel moontlik dat hy met sy besoek aan Oostenryk die ligging van ‘Setri’ vasgestel het. Sentry is waarskynlik ’n meer korrekte spelling van die naam.
  1. Na die afsterwe van Jacob Kützer in Junie 1742 het Susanna Snyman op 7 Julie 1742 die testament by die Kaapse Weeskamer ingehandig. (Op die oorspronklike dokument word na ‘Cabo’ verwys.) Daar is toe ’n afskrif van die testament gemaak en die klerk het ook ’n soort van kwitansie aan haar uitgereik om ontvangs van die dokument te erken. Op hierdie kwitansie word Jacob se plek van herkoms as ‘Setri by Weenen’ aangegee. Bokant hierdie naam staan ook Reichstadt geskryf. Reichstadt is egter verkeerd gespel en dit laat die vermoede ontstaan dat ‘Setri’ ook verkeerd gespel is.
  1. Dit is heel moontlik dat Susanna ná soveel jare vergeet het waar haar gade presies vandaan gekom het, of ten minste wat die korrekte spelling van die dorp was.

xxxxxxxxxxxx


Jacob, die eerste party, is fris en gesond van liggaam. Cornelia, die tweede party, is siek en bedlêend. Albei is egter verstandelik gesond en by hul volle positiewe. Die testament word ongedwonge deur hulle opgestel.



Cornelia was die tweede oudste kind van Hans Helm en Geertruy Willemse wat op 28 September 1670 in die Nederlandse Hervormde Kerk van Amsterdam getroud is en in 1671 na Suid Afrika verhuis het. In die Kaap het Hans en Geertruy bekend gestaan as Hans HELMIS en Gerretje WILLEMS.

Die oorsprong van die naam Kützer

“Die voertuig bekend as die koets is vir die eerste maal ontwerp in die Hongaarse dorp Koszi naby Raab.” (Theunessen, 1946: 23 en 35.) Die ligging van Raab is ongeveer 47° 30’ noorder-breedtegrade en 17° 3’ lengtegraad. Om en by 320 kilometers vanaf Raab in ’n noordwestelike rigting is Wenen in Oostenryk. 


“Van Koszi het die koetsboukuns versprei na ander lande. In Duitsland het koetsbouers dikwels die van Kutscher aangeneem. Die naam Kützer het sy oorsprong in die suide van Duitsland in die provinsie wat destyds as Boheme bekend gestaan het.” (Ibid.: 23).
.

Die Coetsers en Coetzers





Die stamvader van hierdie families was Jacob Kützer. Hy arriveer ongeveer Augustus-September in 1709 in Suid-Afrika tydens die bewind van Goewerneur Louis van Assenburgh.

In sommige geskrifte word sy plek van herkoms as ‘Setri by Weenen’ aangegee. Niemand kon tot dusver presies vasstel waar Setri geleë was nie. Na aanleiding van sekere gegewens wat tydens navorsing aan die lig gekom het, het skrywer tot die volgende gevolgtrekkings gekom:


Al bogenoemde bespiegelinge en afleidings maak Punt 1 meer aanvaarbaar en die feit dat Jacob sy dienste as soldaat by die Kaap aangebied het, is vir skrywer eintlik voldoende bewys dat hy wel van ‘Sentri by Weenen’ afkomstig was.

Daar is geen twyfel waar Jacob se ouers gewoon het en hy grootgeword het nie. Immers, in die testament van Jacob en Susanna Snyman word duidelik aangegee dat sy vader Wenceslaus Kützer woonagtig was te Reichstadt in die Duitse provinsie Boheme.

Invoegsel op 08/08/2011. Nagevors deur genealoog, Johann H Claassen: Setri is in Noorweë by 59 31 77 N 17 52 12 O. Die Politieke Raad (1729) dui egter aan dat Jacob Kützer van naby Weenen, Oostenryk af kom om as ’n ‘soldaat’ in Suid-Afrika diens te doen. Hulle sê dat hy met die skip Noordhoek gekom het, maar daar het nie so 'n skip in die Kompanjie bestaan nie.
Geskiedenis van Noorweë: (Te lees in Wikipedia)


 Jacob die Vakleerling in Kaap de Goede Hoop

“Jacob was lid van die Burgerwag - ook ‘Ratelwag’ genoem – wat deur Simon van der Stel in die lewe geroep is. Hierdie ‘wag’ moes die stad tydens nagtelike ure bewaak. Die manne was gewapen met gewere, lanterns en ratels en het die onverligte strate gepatrolleer onderwyl hulle die slapende burgers ‘Wel te rusten!’ toeroep. Sodra hulle die geringste stoornis of tekens van ‘kwade bedoelinge’ opmerk, het hulle hul ratel ingespan em luidkeels ‘Moord! Diefstal!’ of iets dergeliks uitgeroep.” (Collier, 1961:12)

“Dit was hulle taak om straatgevegte en diefstal te voorkom, hulp te verleen aan die dronk matroos wat dalk in ’n watersloot kon val, die sluise van die slote in stormagtige weer oop te maak en die slaaf wat sonder ’n pas van sy baas op straat was te arresteer.” (Ibid.: 13)  

Hulle moes natuurlik ook gereed wees vir ’n moontlike aanval deur een van die vyf Hottentotstamme wat in die omgewing ’n nomadiese bestaan gevoer het.

Na vier jaar diens as soldaat kry Jacob die vergunning om as ’n Algemene Werksman – Tappersknecht – opgelei te word. Die vergunning is deur Goewerneur William Hellot goedgekeur. Op Donderdag 14 September 1713 word ’n nuwe kontrak deur die Hoofklerk, Hugo van der Meer-Pietersoon, opgestel tussen Jacob en die destydse regering aan die Kaap de Goede Hoop. Die kontrak in ’n neutedop lees soos volg:

“Magtiging word aan die herbergier, Johannes Pythuis, verleen om Jacob in sy diens te neem en hom op te lei as tappersknecht en ‘tot wat redelike diensten hem verder mogte benodigen’.’ Die besoldiging is tien gulden maandeliks. Bo en behalwe voedsel en drank kry Jacob ook ‘goede huisvestinge’.  Voorts moet hy gereeld sy dienste by die Kasteel aanbied. (Klaarblyklik om steeds diens as Lid van die Burgerwag te verrig.)

Twee assistent-klerke, Benjamin Wiese en Gysbert van Groenenberg, teken as getuies. Jacob onderteken ook die dokument en sover vasgestel kan word, is dit die enigste dokument in die Kaapse Argief waarop sy handtekening voorkom.

Die besoldiging wat Jacob as Tappersknecht ontvang het, klink bra min, maar in die vroeë jare aan die Kaap het 10 gulden baie waarde gehad. Byvoorbeeld kon ’n os vir 25 gulden gekoop word, wat in 1989 ongeveer gelykstaande is aan R4.
Vir 2-3 gulden kon ’n goeie pak klere gekoop word en vir 3 gulden kon ’n persoon vir een nag in die herberg oorslaap, etes en ’n koue of warm bad ingesluit. Jacob het dus in vandag se geld vir R1,60 per maand by Pythuis gewerk. Die soldy wat hy as soldaat ontvang het, is onbekend.

Jacob lewer bevredigende werk want na slegs 10 maande en 17 dae, op 31 Julie 1714, bekom hy die status van Vryburger en ontvang ’n plaas in die omgewing van Stellenbosch. Vir ongeveer 20 jaar bly hy ’n lid van die Burgerraad van Stellenbosch en Drakenstein. Hy het besonder belang gestel in die welsyn van die minderbevoorregte boere.

Hierdie arm boere het in Julie 1725 ’n versoekskrif om geldelike hulp aan die regering gerig. Te oordeel na Jacob se twee testamente waarin hy telkens ’n som geld aan die Diakonie van Stellenbosch bemaak het, juis om die armes te help, is dit ook waarskynlik dat hy op ander maniere gehelp het om die arm boere se las in ’n mate te verlig.

Sedert 5 Mei 1733 was Jacob die kaptein van die Burgerdragonders van Stellenbosch. Hierdie feit maak dit moontlik om te veronderstel dat Jacob se plaas nie baie ver van Stellenbosch geleë was nie, aangesien hy anders nie sy pligte as kaptein na behore sou kon verrig het nie.   

Jacob en Cornelia Helm(s)

Op 15 September 1717 tree Jacob Kützer in die huwelik met Cornelia Helm (soms ook geskryf HELMS of HELMES). 

Hulle dogter, Cornelia was eers met Jan van den Bosch getroud, uit welke huwelik drie kinders gebore is – Johanna, Catharina en Johannes. Johannes is jonk oorlede. Johanna is drie keer getroud – eers met Johannes Bocklenberg, daarna met Maurits van Staden en laastens met Jurgen Hanekom. Die tweede dogter, Catharina, is met Albert van Emmenes getroud. Hulle het vier kinders gehad – Gerrit, Cornelia, Geertruy en Johannes.

Jan van den Bosch is heelwaarskynlik jonk oorlede, want Cornelia trou later met Arie (Adriaan) van Wyk. Die volgende kinders word uit hierdie huwelik gebore – Roelof, Aletta, Willem, Sara, Adriaan, Maria, Catharina en Hester.

Maar weereens word Cornelia in rou gedompel toe Arie haar ontval. Sy trou vir ’n derde en laaste keer met Jacob Kützer. Cornelia, wat reeds in haar laat dertigs was, skenk aan Jacob slegs twee kinders – Johannes Jacobus en Dorothea. 

Dit is moeilik om te bepaal waarom Jacob nie sy vader, Wenceslaus, vernoem het nie. Dit was immers ’n vaste reël dat ouers hul kinders vernoem: Die oudste seun kry die oupa aan vaderskant se naam, die tweede seun kry die oupa aan moederskant se naam en die derde kry sy vader se naam. Daaropvolgende seuns word na die ooms aan beide kante vernoem. Met die dogters was die reël soortgelyk: Die oudste dogter kry die ouma aan moederskant se naam, die tweede dogter kry die ouma aan vaderskant se naam en die derde haar moeder s’n. Die daaropvolgende dogters word na hul tantes vernoem.

Ten opsigte van Jacob se oudste seun kan die volgende afleidings gemaak word: Johannes Jacobus is óf ’n kombinasie van Hans (Helm) en Jacob se name, of dit is heel moontlik dat die seun na Jacob vernoem was en dat Jacob se volle name Johannes Jacobus was.

Omdat Cornelia alreeds haar ouers en sommige oom en tantes vernoem het, is dit heel moontlik dat Jacob se dogter, Dorothea, na sy moeder vernoem is.

Jacob en Cornelia se huwelik was maar kortstondig van aard want in Mei 1720 word sy ernstig siek. Haar toestand versleg tot so ’n mate dat sy Jacob versoek om reëlings te tref sodat ’n testament opgestel kan word. Jacob slaag daarin om die verteenwoordigers van die Weeskamer, Mnr. Frans Louis van Gros en sy assistent, by hom aan huis te kry om die nodige dokumente op te stel. Hy reël ook met Jan Zenderer van Westenhout en Hendrik Lootz, waarskynlik sy naaste bure, om as getuies op te tree.

Al hierdie persone vergader op 23 Mei 1720 om 10h00 die oggend om die bed van Cornelia, waar sy en Jacob hulle gesamentlike testament opstel. Dat beide ’n Christelike inbors gehad het, spreek duidelik uit die inhoud van die testament.

In ’n neutedop lui die testament van Jacob en Cornelia soos volg:


Albei erken hul afhanklikheid van God en wil dit wat deur die Almagtige aan hulle geleen is en nog verleen sal word, op ’n wettige wyse aan hulle kinders bemaak.

Hulle bemaak ook 25 gulden aan die diakonie van Stellenbosch. “Eestelyk legateuren en te maken zy testateuren yden in ’t besonder een summa van vyf-en-twintig gulden indiese waarde van de diakonye armen van Stellenbosch, ommeses wereen naar de dood van een yden uytgekeert te werden aan voorgenoemde diakonye...”

Voorts verdeel Cornelia haar geld en goedere in 13 gelyke dele, dit wil sê die 12 kinders plus Jacob. Die langslewende word as eksekuteur van die boedel aangestel met dien verstande dat die kinders ’n Christelike opvoeding sal ontvang.

Ook word bepaal dat indien Jacob sonder kinders sou sterf, hy/sy vader Wenceslaus Kützer, indien nog lewe, as sy wettige erfgenaam aanstel.

Om egter gerustheid van gemoed oor die testament en die uitvoering van die bepalinge daarvan te hê, word die heemrade Pieter van de Byl en Daniël Pheil as toesighoudende voogde aangestel.

Hierdie testament van Jacob en Cornelia Helms word op 21 Junie 1720 by die Weeskamer aan die Kaap ingehandig wat daarop dui dat Cornelia gedurende die eerste helfte van Junie oorlede is.

Jacob en Susanna Snyman

In 1722 (presiese datum onbekend) tree Jacob met Susanna Snyman in die huwelik. Haar ouers was Christoffel Snyman en Margaretha de Savoy. Die vader van Margaretha was Jacques de Savoy van Aeth, 'n Franse vlugteling. (Die foto is nie van Jacob en Susanna. Bron: Wikimedia Commons/Felicitas Sanchez)
Jacob en Susanna word met agt kinders geseën. 

Hulle stel kort ná hul huwelik ’n gesamentlike testament op, vervolgens in ’n neutedop:

Albei die testateure is terdeë bewus van die sekerheid van die dood en die onsekerheid van die lewe en daarom wil hulle die besittings van die Almagtige aan hul verleen het op ’n wettige wyse aan hul kinders bemaak.

Ook in hierdie testament is Jacob se eerste prioriteit die diakonie van Drakenstein. “Zoo legateuren maken en bespreken de testareunen voor eers aan de diakonie armen van Drakenstein ydens een somme van vyf-en-twintig gulden of vyftig te same om de een helfte na de dood van de eerssterwende en de ander helfte na’t overlyde van de langslewende uitgekeert te word...”

Bo en behalwe die wettige deel van die erfporsie wat Johannes en Dorothea toekom, bemaak Jacob aan albei ’n bedrag van vyfhonderd gulden “als een gift gereken”. (Dit wil dus voorkom of Jacob in hierdie stadium reeds ’n vermoënde man was.)

Jacob bemaak, indien hy die eerssterwende is, sy besittings roerende en onroerende, aan sy vrou en enige kinders wat uit die huwelik gebore sou word. Susanna maak ’n soortgelyke bepaling: Indien Jacob sonder kinders sou sterf, moet sy gedeelte aan sy vader, Wenceslaus Kützer, uitgekeer word. Indien Susanna sonder kinders sou sterf, moet haar gedeelte aan haar moeder, Margaretha de Savoy, uitbetaal word.  

Die langslewende word as eksekuteur van die boedel aangestel en ook as voog oor die kinders met dien verstande dat die kinders ’n Christelike opvoeding moet kry.

As toesighoudende voogde en mede-eksekuteurs word Theunis Botha en Wouter de Vos benoem. As getuies teken die burgers Roelof Jonatz en Jan van Ellewee.

Hierdie testament word op 7 Julie 1742 by die Weeskamer in die Kaap ingehandig. Die toenmalige sekretaris, Mnr. Van Plesjin, het ’n afskrif daarvan gemaak. Die handtekening van die betrokkenes kom nie op die afskrif voor nie; nadat die oorspronklike dokument met die hand gekopieer is, is dit weer aan die wettige eienaars teruggegee.

Gelukkig het die afskrifte behoue gebly, maar ongelukkig sonder die handtekeninge. Hierdie dokumente word in die argief te Kaapstad bewaar.

Die inhandiging van die testament by die Weeskamer op 7 Julie 1742 dui daarop dat Jacob Kützer gedurende Junie 1742 oorlede is.

Dit blyk duidelik dat die dokumente wat daar van Jacob beskikbaar is dat hy ’n toegewyde Christen en hardwerkende persoon was. Dat sy boerdery ook ’n sukses was, spreek uit die bedrae geld wat hy in sy tweede testament aan sy kinders kon maak.

Waar het die geld vandaan gekom? Die afsetgebiede vir plaasprodukte tydens hierdie tydperk was sekerlik nie te groot nie en meeste boere was seker aangewese op die altyd toenemende aantal skepe wat aan die Kaap aangedoen het om vars water en groente op te laai. Dit is dus moontlik dat, afgesien van die plaaslike mark, die voorsiening van produkte aan die skepe Jacob se grootste bron van inkomste was.

Alles in ag geneem, kom ’n mens by die nabetragting van die beskikbare inligting tot die gevolgtrekking dat Jacob ’n respektabele man was.

Die kinders van Jacob en Susanna

Sedert die stigting van die blanke beskawing aan die Kaap tot ongeveer die begin van die negentiende eeu is min kinders se geboortedatums in kerke se doopregisters aangeteken. Slegs die datum van die doopregistrasie was aangeteken. Na gelang van die omstandighede van die nedersetters – byvoorbeeld vervoerprobleme, afstand van die naaste kerk, arbeidsprobleme op die plase en vele ander probleme – het dit soms gebeur dat ’n gesin per geleentheid dorp toe gegaan het om tot vier kinders te laat doop. Om dus die werklike ouderdomme van die vroeë pioniers te bepaal, is nie altyd moontlik nie.

Hoe dit ook al sy, Jacob het nie probleme met die doop van sy kinders ondervind nie omdat hy redelik naby Stellenbosch gewoon het. Daar kan dus met vertroue aanvaar word dat hy sy kinders laat doop het binne ’n maand of twee ná geboorte.

Stamregister van Jacob Kützer: Kinders en kleinkinders:      






4 comments: