Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Sunday, August 28, 2011

Hoofstuk 2 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg


Jacob Kützer se Nasate in die Kolonie


Die families word groter en groter; die kuddes word groter; die plase kan nie meer almal onderhou nie. Die gevolg is dat die bakens verder ooswaarts verskuif; meer grond word benodig; groter en beter weivelde word benodig en so vind ons ook onder Jacob se nasate ’n groep wat stelselmatig ooswaarts beweeg.

Sommige beoefen een of ander beroep en bly dus in die dorpe agter waar hulle huise bou, trou en kinders grootmaak en oor die algemeen aan die aktiwiteite van die dorpslewe deelneem.

Aan die einde van die agtiende eeu bevind heelparty nasate van Jacob hulle aan die Oosgrens. Sommige in die omgewing van Graaff-Reinet, Tarka, Craddock, Klaas-Smithsrivier, om maar net ’n paar plekke te noem. Soos so baie ander boere ondervind hierdie families probleme met die swart stamme en die Boesmans. Strooptogte op die landerye, maar veral die veediefstalle, besorg heelwat ellende en armoede. Die grensboere het hulle hande vol gehad om die strooptogte aan bande te lê, die vee te beskerm, die boerdery aan die gang te hou en talle ander probleme. Hulle pleidooie om hulp van die regering het dikwels op dowe ore geval en meestal was hulle vir hul voortbestaan op eie geledere aangewys. Hierdie maatreël het heel dikwels rampspoedige gevolge gehad omdat die Britse regering die Grensboere swaar beboet het wanneer hulle ‘wet in eie hande neem’ om hulle mense en besittings te beskerm.

Die Engelse regering se onvermoë om sy verpligtinge in ’n land wat hy ‘verower’ het na te kom, was alte duidelik. Gevolglik was die aangewese oplossing vir die Grensboere om te verhuis na plekke wat nie onder die Britse regering geval het nie. Plekke waar hulle gehoop het hulle nie probleme sou hê met roof, moord en geweld nie, waar hulle hul eie sake kon behartig en in rus en vrede hulle kinders kon grootmaak. Die kreet, ‘Trek noord!’ het later al hoe sterker geword.

Van die eerste Coetser-families wat op die Oosgrens beland het, was Wenzel Coetser en sy gade Jacoba Jordaan. Hulle boer op die plaas Elandsdrift in die vallei van die Tarka. Soos meeste van die grensboere was hulle ook eenvoudige en gasvrye mense. In 1820, op een van sy reise deur die Kaapprovinsie, ontmoet Thomas Pringle en sy reisgeselskap hierdie Coetser-familie.

Die huis, plaas en leefwyse, wat redelik verteenwoordigend van die ander grensboere was, maak ’n groot indruk op Thomas Pringle, sodanig dat hy in sy artikel ’n breedvoerige beskrywing van die huis, plaas en leefwyse van Wenzel en sy gesin aanteken.     

Die seun ‘Arend’ waarna verwys word, was heelwaarskynlik die bynaam van Welhelmus Johannes – toe 10 jaar oud – en die twee dogters was moontlik Jacoba Susanna eb Cornelia Aletta Sophia – albei baie knap met naald en garing.

In die omgewing van Cradock is daar verskeie Coetser-families, onder andere op die plaas Coetserskloof en Coetserfontein. In die Graaff-Reinet distrik vind ons die plaas Trompettersdrift waar Gerhardus Coetser en sy gade Christina Johanna Fouche boer. Baie grensboere, soos Gerhardus en sy gesin, het nie die Trek meegemaak nie en dit was met die hulp van hierdie boere dat die Britse regering ’n mate van orde aan die Oosgrens kon skep.

Gerhardus en sommige van sy seuns neem aan verskeie “Kafferoorloë” (soos wat dit destyds genoem was) deel en word later vir hierdie werk met plase beloon. Paul Petrus Johannes, tweede oudste seun van Gerhardus en Christine, tree as gids vir die Engelse op en neem aan verskeie oorloë teen die swart stamme deel. Hy is gebore op 21 Maart 1819 en tree in die huwelik met Johanna Hendrina Els. Voor sy troue was hy ’n gesiene veeboer op Trompettersdrift. Tydens die oorloë teen die swart stamme en die Hottentotsopstand van 1850-1857 is die Coetsers se huise by Dubbeldrift geplunder en afgebrand en toe die gebied tussen die Vis- en die Keiskamarivier na afloop van die stryd in plase uitgegee is, het hulle hul op die historiese Fort Willshire aan die Keiskamma gevestig. Gerhardus en Christina is daar oorlede en begrawe.

Vir sy dienste as gids vir die Engelse het Paul ’n plaas ontvang wat hy Kemp genoem het, waarskynlik omdat J.T. Kemp ’n skool op hierdie plaas opgerig. Paul was ’n gesiene lid van die samelewing tot met sy heengaan op 26 Oktober 1909. Die ‘Gebeutenisse uit die Kafferoorloge’ (sic.) is deur Paul aan ’n sendelingonderwyser, Lourens de Beer, gedikteer en die oorspronklike uitgawe het in 1889 by D.F. du Toit en Kie van die Paarl verskyn. Slegs ’n beperkte aantal van hierdie boekies het die lig gesien en vandag is dit uiters moeilik om ’n eksemplaar te bekom. Skrywer was gelukkig om by een van die nasate van Paul Petrus Johannes, Generaal-Majoor Tjokkie Coetser, die oorspronklike uitgawe ter insae te kry. Dit loon enige persoon die moeite werd om hierdie geskiedenis van die Oosgrens te lees om sodoende ’n idee te vorm van die probleme waarmee die Grensboere te kampe gehad het.   

Die ellende van die Oosgrens moet nie onderskat word nie en ’n mens vra die vraag: Kan jy die daardie boere blameer dat hulle besluit het om te trek? Trek was as’t ware die enigste uitweg tot selfbehoud, selfrespek en ’n veilige toekoms vir die kinders.

Sir Harry Smith en Sir Andries Stockenström het met hul burgerkomandos ’n groot aandeel in die oorloë aan die grens gehad. Sonder die hulp van die Grensboere sou hulle stryd egter wanhopig en moontlik tevergeefs gewees het. Die 1820-Setlaars se aandeel in die skep van orde en rus moet ook nie onderskat word nie. Die laaste oorlog teen die swart stamme vind in 1853 plaas waarna daar ’n mate van rus en voorspoed ontstaan. Die Oosgrens was getem, veilig gemaak vir die nageslag wat sou kom en vir die Boere het ’n tydperk van vooruitgang aangebreek.

In hierdie proses van ‘skoonmaak’ en ‘leefbaar’ maak het die Coetsers ’n reuse-aandeel gehad. Dikwels moes sommige van hulle magteloos toekyk hoe ’n plaas en opstal verbrand word. Ander weer is tydens skermutselings swaar gewond en het by die dood omgedraai. Maar soos meeste ander grensboere was hierdie nasate van Jacob taai en geharde mense wat die gevaarlike en veeleisende lewe aan die grens met durf en geloof kon aanpak.

So vind ons in die jaar 1834 – 125 jaar na die aankoms van Jacob in Suid-Afrika, dat die Coetsers en Coetzers wyd en syd oor die Kolonie versprei het. Jy het gekry in Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam, Drakenstein-distrik, Paarl, Graaff-Reinet, Cradock, Tarka, Klaas-Smithsrivier-distrik en talle ander plekke. Die meeste van hulle was landbouers en veeboere. Ander weer het een of ander beroep in ’n dorp beoefen.

Dat hulle hul plek in die samelewing volgestaan het, is ongetwyfeld waar. Baie het hul stempel op die verloop van die geskiedenis afgedruk en baie wat nog sou kom, sou hulle merk maak.

In die Kerkbode van 1 September 1948 plaas dominee H.C. Hobkins ’n artikel onder die opskrif ‘’n Skakel met die Verlede’. Dit is ’n getuigskrif van ’n stoere en Godvresende voorsaat van weleer, oom Willem Coetzer en skrywer is die mening toegedaan dat ’n soortgelyke getuigskrif op meeste van Jacob se nasate van toepassing sou wees.

’n Paar interessanthede uit die artikel van ds. Hobkins word hier aangehaal:

“In oom Willem het ons gemeente en hierdie dele ’n skakel met die woelige verlede wat spreek van die ontberinge wat die bewoners van die destydse grens van die blanke Kolonie moes deurmaak. Sy vader, Paul, het vir sy groot dienste ook ’n plaas van die regering ontvang en op hierdie plaas is oom Willem in 1858 gebore. Die vertellinge van sy vader, wat meeste van die Kafferoorloë  meegemaak het, onthou nog goed. In die opbou van die gemeentelede het oom Willem ’n groot rol gespeel. Reeds in 1884 onder wyle ds. B.B. Keet het hy sy plek in die kerkraad volgestaan.

Oom Willem word in groot agting gehou en hy betaal dit terug met liefde en met sy gebede. Ons is dankbaar vir sy soort wat nog hier en daar in ons gemeentes oorgebly het om ons te herinner aan die verlede en ons dan te inspireer vir die toekoms. Hulle voorbeeld is vir ons ’n besieling. Ons bring aan God al die eer vir so ’n lang en vrugbare lewe.”

Erens aan die Klaas Smithsrivier vind ons nog ’n nasaat van Jacob - Johannes Jacobus Coetser. Hy en sy gade, Elsje Magdalena Jordaan, staan te midde-in die stryd op die Oosgrens en spook en spartel om kop bo water te hou. Die verbittering het ’n hoogtepunt bereik en die gesin is besig om gereed te maak vir die Groot Trek.    


Invoegsel deur Martie Coetser-Pozyn op 08/08/2011: Die woord ‘kaffer’ beteken ‘heiden’ en word al etlike jare geklassifiseer onder ‘haatspraak’. Dit was egter die benaming van die oorloë van destyds. Dit was ook deel van titels (beskrywings) van politieke sake wat betrekking gehad het op die swart inboorlinge van Suid-Afrika. Dit was die algemene naam vir ‘swartmense’, soos wat Boere vandag nog ’n algemene naam vir Suid-Afrikaanse witmense is en Engelse vir Engelse witmense. Daarom verander ek dit nie na die naamwoord vir swartmense wat veral sedert 1994 as aanvaarbaar beskou word nie, naamlik ‘Afrikaan / Afrikane’. Ek vra egter dat die gebruik van die woord nie beskou moet word as ’n implikasie dat die skrywer rassisties was nie. My pa, P.J. Coetser, het die belange van swartmense op die hart gedra en was hart en siel ’n sendeling wat in sy vry tyd menige ontwikkelingsprojekte in swart gemeenskap met groot sukses aangepak het. Hy kon Sesotho vlot praat en was trots op die bynaam ‘moruti’ (dominee) wat aan hom gegee was deur die swart mense met wie hy te doen gehad het.  

Stawing van geskiedenis & erkenning vir foto's: 
Die Kaapkolonie

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


No comments:

Post a Comment