Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Wednesday, March 21, 2012

Hoofstuk 5 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)

Die Coetsers en die Tweede Groot Trek 


Hendrik Potgieter 

Die gebied is een ongesonde streek…

Gestadig het die trek uit Natal voortgeduur, en soos Andries Pretorius dit in die Nalalier van 3 Oktober 1845 gestel het:  “omdat hulle alle vertroue in die regering verloor het; omdat hulle ontevrede is oor grondreëlings; omdat hulle moeg is om te wag op beslissings wat elders geneem moet word, omdat hulle en hulle eiendomme nie langer veilig is nie; omdat hulle sedert lank gelede die instroming aanskou van bantoes, wat doen en maak net wat hulle wil sonder hindernis of beletsel.

Kan ‘n mens hulle kwalik neem dat hulle weereens die duurgekoopte bodem prysgegee het en getrek het?  Nee, stellig nie, want vorige ondervindings het geleer dat die Britse owerheid nie by magte was om aan sy “onderdane” sekuriteit te verseker nie en nog minder om hulle toe te laat om hulle self-identiteit te behou en te ontwikkel.

Hendrik Potgieter het alreeds by twee geleenthede ekspidisies noord van die Vaalrivier onderneem.  ‘n Roete na Delgoabaai, om met die Portugese handel te dryf, het hy gevind.  Hy was ingenome met die uitslag van sy reise, want – so het hy geglo en gehoop – nou was hulle eindelik verseker teen Britse onderwerking en anneksasie.”  (Van der Walt et al.: 237)

In Mei 1845 vind die derde trek van Potgieter plaas.  Die Coetsers en baie ander trekkers maak hierdie reis mee.  Sonder enige noemenswaardige voorvalle kom hulle eindelik op Ohrigstad aan – daardie jare Andries Ohrigstad genoem.  Die naam van die dorp het sy ontstaan soos volg gehad:  In die hawe van Lourenco Marques het die vragskip “Brazilia” voor anker gelê.  Dit was ‘n vragskip vanaf Holland, volgelaai met geskenke gestuur deur ‘n uiters simpatiekgesinde handelaar met die naam van George Orhig.  As blyke van dankbaarheid teenoor Potgieter en Ohrig het die trekkers besluit om die nuutgestigte dorpie na hierdie twee persone te vernoem, vandaar die naam Andries Ohrigstad.
Hendrik Potgieter en Die Matabeles 

Die aanvanklike entoesiasme en hoop om ten einde tot ruste te kom, was egter van korte duur.  Hierdie nuutgestigte dorpie, waarvan die oorblyfsels vandag nog te sien is, bewys homself as ‘n ongesonde en uiters gevaarlike gebied, vir vee -sowel as menselewens.  “Die dorp self was in die koorsagtige streek geleë en die omgewing was nie so geskik vir algemene boerdery soos aanvanklik gemeen  nie.  Die eerste groot trek uit Ohrigstad was in Maart 1848 ‘n voldonge feit.  Leë huise, beboude erwe en bewerkte landerye wat nie van die hand gesit kon word nie, is net so laat lê om later weer aan ander toegeken te word.” 
(Ibid.: 238)

Ohristad, wat die eerste jaar na sy stigting oor die 300 huisgesinne getel het, was met die oog op die handel en die onafhanklikheid bedoel om die plek te word waar die trekker-ideale moes kristalliseer; maar helaas, Potgieter se vertrek en die koorsepidemie die jaar daarna (1849) het die dorp die nekslag toegedien.  Pretorius skrywe aan dominee Faure: ”de gele koorts met het schyden des somers … heeft gewoed te Ohrigstad … En is ryklik menschen gestonfen …”

Die ongesonde toestand maak dat die Coetsers van die eerste gesinne is om spore te maak.  Hulle vestig hulle in die gebied wat deur die swartmense “Mashisjing” – plek van die lang gras – gedoop is.

Die kinders van die veld het jou Mashisjing gedoop;
Plek van die lang gras, met vlaktes wyd en oop.
Ongerepte natuur was jy eers gewees
Waar jy God’s hand in alles kon lees.
(PJ Coetser)

Lydenburg 
Johannes Jacobus Coetser, jonger broer van Philippus, bekom die plaas Rietspruit, waar die dorp Lydenburg later aangelê sou word.  Die ander Coetsers en hul stiefvader, Jan Mathys de Beer, vestig hulle op Beerspos – hoër op langs Sterkspruit – waar die visserye vandag geleë is.  Ander trekkers soos die Schoemans, Viljoens, Krugers, Steuns, Bezuidenhouts en vele ander vestig hulle ook in die omgewing van Mashisjing.

Brandarm en afgemat na twaalf jaar se omswerwinge het hulle geglo dat dit nou die eindelike Eden van hulle uittog uit die Kolonie sou wees”.

Die onverbiddelike voortbeuring teen die soms so ongenaakbare toestande het tot gevolg gehad dat ‘n geharde en vasberade geslag te voorskyn getree het.  ‘n Geslag wat gedetermineerd was om sy identiteit en selfbeskikking te behou.  Hierdie vasberadenheid het sy weerklank, met nootlottige gevolge vir die Britse regering, in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë gevind.

Die Coetsers wat in 1848 – 1849 op Lydenburg en omstreke aangekom het, was die volgende:
  • Philippus Jeremia, sy gade Johanna Adriana Venter en hulle krosie van vier;
  • Johannes Jacobus, sy gade Johanna Martina Regina Viljoen en die oudste dogtertjie, Sara Maria; 
  • Petrus Willem, Johannes (Jan) Petrus en Hendrik, aldrie op hierdie stadium nog ongetroud.

Johannes Jacobus woel en werskaf op Rietspruit en hoër-op, langs Rietspruit, die Coetser en die De Beers.

Jan de Beer doop die plaas Beerspos omdat hier ‘n soort poskantoortjie was.  Beerspos word later herdoop na Sterkspruit.  ‘n Gedeelte van die plaas, ongeveer 38 hektaar, behoort vandag nog aan die nasate van Hermanus (Swart Hermaans) Coetser.  Voorwaar ‘n skilderagtige, boomryke plekkie wat pragtig geleë is aan die walle van die Sterkspruit.  Die opstal, opgerig in ongeveer 1890, staan op ‘n natuurlike plato en kyk af op die laerliggende landerye.  ‘n Sterk stroom water, wat deur Sterkspruit gevoed word, loop deur die plasie en word vir besproeiing gebruik.  Die oorspronklike plaas, in sy geheel, kan stellig die Coetserkolonie genoem word.

Met die verskuiwing vanaf Ohrigstad het die Volksraad ‘n ander dorp beplan.  Dit sou aangelê word op die plaas Boshoek van Anton Fick.  Die plaas Waterval van JJ Malan en Enkeldoorn van ou Piet Schoeman sou ook verval en aan die dorp toegeken word.  Daar word besluit om die dorp Lydenburg te noem ter herinnering aan die lyding wat hulle in Ohrigstad verduur het.

Al gou egter, blyk dit dat daar nie genoeg water vir die nuwe dorp beskikbaar sou wees nie en daar moes dus weer uitgekyk word na ‘n geskikter plek vir die aanleg van die nuwe dorp.”  (Lydenburgse Eeufeesgedenkboek, 1850 – 1950: 31 en 32).

Die lot val eindelik op die plaas Rietspruit van Johannes Coetser.  Vir Johannes, wat alreeds met die boerdery begin het, sekerlik ‘n treurige dag.  ‘n Beter en meer geskikte terrein sou hulle sekerlik nie maklik gevind het nie.  Water was volop en die helling vir die watervore was ideal.

Met die negedaagse raadsitting wat te Potchefstroom op 22 Januarie 1850 ‘n aanvang geneem het en waarop Lydenburg verteenwoordig was deur Jacob de Clerq, P.E. Kruger, Philippus J. Coetser, W.F. Joubert, C. Potgieter, C. Viljoen, Piet Steenkamp, Jacob Lotter, L.J. Erasmus en W.H. Jacobs is die plaas Rietspruit nog ‘n keer bespreek en is ‘besloten en vasgesteld dat de plaats van Johannes J. Coetser ingetrokken is genaamd Rietspruit voor een dorp genaamd Lydenburg in die overzyde van Sterkspruit.’  Philippus Coetser was die enigste lid wat teen hierdie mosie gestem het (Ibid.: 34)

Aan Johannes word ‘n ander plaas aan die Komatie en twee erwe op die dorp toegeken.

Die nuwe dorp Lydenburg

“In het midden der dorp een blok van zes erfen …”

“Die aanleg van die nuwe dorp het ‘n aanvang geneem.  Die strate is beplan en uitgelê.  Die watervoor word deur veldkornet Jan M. de Beer uitgehaal.  Reeds in Mei 1850 kon hy sy beloning van 250 Riksdaalders daarvoor ontvang.  In 1853 is ‘n nuwe voor, weer deur de Beer met behulp van die swartmense van Sinkoeba uitgehaal.  Verskeie ander bouwerktake is ook aan de Beer opgedra, o.a. die skansmuur om die kantoor.

Die eintlike dorp het bestaan uit vier dwars, d.w.s. Noord-Suid strate en vier regaf, d.w.s. Oos-Wes strate.  Die regaf strate was Bűrman-, Kerk-, Mark- en Potgieterstraat.  Die dwarsstrate was Burger-, Kantoor-, Lang- en de Clerqstraat.” (Ibid.: 35)

Die Christelike inbors van die baanbrekers en hulle afhanklikheid van God word ook hier met die stigting van die nuwe dorp weerspieël deur die bepaling van die Volksraad dat “in het midden den dorp een blok van zes erfen sullen worden uitgehouden tot die plaatsen eener kerk, kantoor en mark…”

“In 1852 is die kerkgebou gedeeltelik voltooi.  Daaraan het Alexander Livingstone die messelwerk, Jacob Malan die klipwerk, Lewis Steyn die transportwerk en Koos Kruger die houtwerk gedoen.”  (Ibid.: 36)

Lydenburg geskiedenis 
Etlike persone koop erwe en begin met die bou van woonhuise; ook ‘n winkel of twee kom tot stand.

In die beginjare het Lydenburg maar swaar gekry en sy vooruitgang was teen ‘n slakkepas.  Min mense kon dit bekostig om dadelik ‘n stewige woning te bou en moes maar tevrede wees met ‘n soort hartbeeshuisie.  Hierdie primitiewe behuising het sekerlik nie ‘n goeie indruk geskep nie want dominee Van der Hoff, wat nie met die Lydenburgers oor die weg kon kom nie, skryf in 1854 aan Professor Lauts : Lydenburg… “is een ellendige nest …”  Indien hierdie Godsman slegs ‘n gedeelte van die setlaars se ontberings, verdriet en beproewinge van ‘n twaalfjaarlange trekkerslewe kon meemaak, sou hy heel waarskynlik sy pen in liefdevolle medelye gedoop het en nie so neerhalend oor hulle geskryf het nie.

In teenstelling met verskeie ander dorpe in die Noorde het Lydenburg stadig maar seker vooruit gebeur en tel dit vandag as een van die vooruitstrewendste plattelandse dorpe in Transvaal.

Die armoede van die vroeë jare het Lydenburg se groei gestrem; weens die giftige tsetsevlieg kon die handel met Delgoabaai nie vooruitgang maak nie; boere in die omgewing kon nie sommer binne die eerste jaar in alle behoeftes voorsien nie.  Kortom, Lydenburg sou vir ‘n hele aantal jare noustrop trek soos ‘n os in die juk.

Soos op talle plase in die omgewing word ook op Sterkspruit met alle erns geboer.  Die aanvanklik tydelike huisvesting maak plek vir opstalle wat met klip gebou word.  Stewige houtbalke word gebruik om die grasdak te dra; bebosde gebied maak plek vir landerye; landerye wat uit Sterkspruit besproei word.  Hierdie rivier het sy oorsprong in Mauchsberg, suid-oos van die plaas.  Die water is heerlik koel en soet, so asof dit fonteinwater is.

As waterfiskaal en bouer verdien Jan Mathys de Beer ekstra geld om die nodige plaasimplemente (indien beskikbaar, moet mens byvoeg) te bekom en ander uitgawes te bekostig.

Die nedersetters het, met die moed en ywer eie aan hulle, stadig maar seker vooruitgebeur en die omgewing leefbaar en winsgewend gemaak.

Vyf en twintig jaar na Lydenburg se stigting was daar alreeds heelwat stewige geboue op die dorp maar gedeeltes van die “ ellendige nest” het nog bestaan.

Die Coetsers se deelname aan die Politieke –en Kerklike lewe

“Zoo word dese onafhankliheidsverklaring voor vasgestel…”

Op 20 Mei 1851 is die eerste Volksraadsvergadering, onder voorsitterskap van W.H. Jacobs te Lydenburg gehou.  Die vergadering brom omdat die lede van Potchefstroom nie die vergadering bywoon nie.  Moontlik kan die afwesighede toegeskryf word aan die baie verpligtinge wat ook daardie lede gehad het ten opsigte van die boerderye.  Die afwesighede was maar een van die talle aspekte wat veroorsaak het dat daar in Maart 1857 die finale skeuring tussen Lydenburg (die Potgietergroep) en Potchefstroom (die Pretoriusgroep) sou kom.  Lydenburg het egter aangehou om handel met Holland te probeer tot stand bring.  Telkens as dit misluk, het hulle maar weer probeer.  Verskeie kommissies, waarvan Philippus Jeremia Coetser van tyd tot tyd lid was, is gestuur om met Goeweneur De Andrade te onderhandel.  Omdat hierdie man die nedersetters goedgesind was, kon daar later handelsbetrekkinge met die Portugese tot stand gebring word.  Met nuwe ywer kon die mense weer vorentoe beur.

Hierdie vroeë bewoners het ongetwyfeld ontstuimige dae beleef.  Konsensus vir samesmelting met Potchefstroom kon nie bereik word nie.  Pogings om eensgesindheid te verkry misluk en Lydenburg neem sake in eie hande.

Op 10 Maart 1857 vergader die Volksraad op die plaas Blinkwater aan die Steelpoortrivier en neem die volgende besluit:  “Zoo word deze onafhanklikheidsverklaring voor vasgestel en erkend verklaard en word by deze beslooten dat deze staat van heden af de naam sal dragen en voeren van: De Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika.”  Lydenburg funksioneer daarna vir 4 jaar as ‘n onafhanklike staat waarna samesmelting met Potchefstroom tog geskied. 

Op kerklike gebied is die woelinge nie minder troebel nie.  Omdat staat en kerk ‘n noue band gehad het, kon hierdie probleme ook stelselmatig opgelos word.

Die Coetsers is betrokke by die politiek sowel as die kerk en so lewer hulle ook hulle beskeie bydraes tot die welvaart en vooruitgang van die nuwe beskawing in Transvaal.

~~~~~~~~~~
Erkenning aan :
Ansie Kruger Coetser vir die tik van hierdie hoofstuk. 

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


No comments:

Post a Comment