Die skrywer, Phillippus Jeremias Coetser op 22 jarige ouderdom (1957) |
Die Stamvaders van die Lydenburgse Coetsers
Philippus Jeremia Coetser (Kaleshaan)
Kinderjare
…“Vir
die voortbestaan van die boerdery was sy aangewese op haar seun …”
Op ‘n plaas in die Klaas Smithsrivergebied
naby Cradock word op Woensdag,
24 November 1819, die tweede kind van Johannes Jacobus Coetser en Elsje
Magdalena Jordaan gebore. Ook vir hulle
was dit sekerlik ‘n blye dag want dit was immers hulle eerste seun!
Die seun word op 28 Desember 1819 op Cradock
gedoop as Philippus Jeremia Coetser. Van
‘n kerkgebou was daar op daardie stadium geen sprake nie en die doopplegtigheid
het heelwaarskynlik in “’n ruim vertrek
van die pastorie” plaasgevind en is deur Ds. John Evans, die eerste leraar
van Cradock, bedien.
Baie jare later, as Volksraadlid van die
SAR, verkry Philippus die bynaam van “Kaleshaan” na aanleiding van die
eenperd-kar wat hy as vervoermiddel gebruik het. Die oorspronklike Swazi-naam was Kaleshane. Vervolgens word daar deurgaans in hierdie
artikel gepraat van “Kaleshaan”.
Kaleshaan se vader, Johannes Jacobus, sterf
in 1833 in die ouderdom van
36 jaar. Die oorsaak van sy dood is nie
bekend nie. Het hy dalk tydens een van
die vele strooptogte van die swartmense omgekom of was sy heengaan te wyte aan
een of ander siekte? Op hierdie en talle
en ander tergende vrae sal moeilik ‘n antwoord gevind word want daar bestaan
bitter min rekords uit daardie tyd.
Johannes laat sy vrou en ‘n kroos van 8
kinders agter. Sy afsterwe moes vir haar
‘n harde slag gewees het want dis in die daardie tydperk dat die grens-ellende
besig was om ‘n klimaks te bereik. Vir
die voortbestaan van die boerdery was sy aangewese op haar seun, Kaleshaan. Op die ouderdom van
13 jaar was hy, soos vele ander seuns van sy ouderdom, reeds ‘n knap jong
boer wat dikwels in die afwesigheid van sy vader die boerdery moes behartig.
Dat die weduwee van Johannes baie probleme
in die gesig gestaar het, is waar. Dit
is egter ook ‘n feit dat daardie vroeë pioniers aan die Oosgrens nie maklik tou
opgegooi het nie en maar steeds met vasberadenhied vorentoe gebeur het. ‘n Mens kan
met veiligheid aanvaar dat Elsje Magdalena met
dieselfde onwrikbare houding die toekoms tegemoet gegaan het.
Sy bly egter nie lank eensaam nie, want
ongeveer 15 maande na die afsterwe van Johannes tree sy op 2 Maart 1834 met Jan
Mathys de Beer in die huwelik.
Nieteenstaande die feit dat daar weer ‘n
vader, alhoewel stief, aan die hoof van die Coetser-gesin staan, raak toestande
op die plaas, as gevolg van die grensprobleme, daagliks hagliker.
Jan Mathys geniet ‘n mate van aansien onder
die burgers want hy word as voorman van ‘n trekgeselskap gekies. Dat hy ‘n knaphandige man was lei geen twyfel
nie want jare later word hy deur die regering van die ZAR as waterfiskaal
aangestel. Ook sekere bouwerke word aan
hom opgedra.
Stadig maar seker beur die trekgeselskap
vorentoe tot oor die Oranjerivier. Later
sluit hulle by die trekgeselskap van Gerrit Maritz aan en nog later word hulle
deel van die Potgietergroep.
Kaleshaan,
Italeni en Bloedrivier
...”Coetser
greep daarop zӱn roer en schoot de kaffer zӱn been stuk…”
Toe die Coetsers se waens in beweging gekom
het, was Kaleshaan ‘n jongman van so om en by 17 jaar oud. Soos die meeste van sy tydgenote het hy ‘n
redelike skoolopleiding gehad – as ‘n mens dit redelik kan noem.
Gedagtig aan die grensmoeilikhede was skoolgaan seker ook ‘n
risiko. Hy kon lees en skryf en het
heelwaarskynlik die grootste gedeelte van sy “geleerdheid” tuis, aan moedersknie,
opgedoen. Die bantoetaal kon hy goed
praat omrede hy op die plaas saam met die swartman grootgeword het – ook met
hulle leefwyse was hy goed bekend.
Dit dien vermeld te word dat die meeste jong
seuns op die ouderdom van 15, 16 jaar nie meer skoolgegaan het nie. Op die plase het hulle hul plek as
volwaardige jong boere volgestaan en die meeste was hul vader se
regterhand. Die meeste dogters van
daardie ouderdom was reeds getroud.
Kaleshaan se kennis van die bantoetaal het
nie ongemerk verby gegaan nie en een van die eerste persone wat hom as tolk
gebruik het, was Piet Uys.
In die begin van 1837 trek die Coetsers saam
met ‘n stuk of 36 waens die Drakensberge oor.
Die trek oor die berg was geensins kinderspeletjies nie. Immers, die geskiedenis leer van die
moeilikhede wat die trekkers ondervind het.
Maar met byna bomenslike krag en die vasberadenheid eie aan daardie stoere pioniers, oorkom hulle
die struikelblokke een na die ander.
By die Coetser-waens is dit Kaleshaan, sy
jonger broer Johannes – toe 12 jaar oud – en Jan Mathys de Beer wat moes swoeg
en sweet om die waens veilig oor die berg te kry. Na ‘n lang en vermoeiende tog kom die waens
in Natal tot
stilstand.
Mens en dier geniet ‘n blaaskans en die
trekkers het seker met genoegdoening geding aan die Vryheid wat voorlê. Vryheid?
Die skok van die wrede moord by Blaauwkrans en Wenen tref soos ‘n
onverwagte vloedgolf. Inderhaas pak die
trekkers op en beweeg nader aan mekaar om sodoende ‘n versterkte laer te vorm.
Van Vryheid was daar op daardie stadium geen
sprake nie en hulle posisie was benard – te meer nog nadat baie van die
trekkers se vee gebuit word. Daar word
‘n veldtog teen die Zoeloes gereël. Alle
oë is gevestig op Uys en Potgieter. Die
kommando word in twee afdelings verdeel.
“Oorkant
die Buffelsrivier by Italeni, aan die bo-end van ‘n kloof, ontmoet die kommando
‘n alleenloper Zoeloe met die naam van Bogos.
Hy deel Uys mee dat die Zoeloes in die rigting van Dingaan se stat
gevlug het en dat hy (Bongos) aan Uys sou wys waar die gesteelde beeste was. Laer-af in die kloof gewaar die kommando ‘n
300-tal Zoeloes wat inderhaas die rieme neerlê.
Die kommando sit hulle agterna maar toe hulle die onderent van die kloof
bereik, merk hulle met ontsteltenis dat hulle in ‘n lokval gelei is en deur
duisende Zoeloes omsingel was. Volgens
oorlewering is Bongos daar en dan vir sy verraad doodgeskiet.” (J.P. Coetser, Dagboek)
Piet Uys gee bevel dat die burgers moet veg
tot die dood toe. Kommandant Hans de
Lange (Hans Dons) jaag met ‘n aantal burgers om by die kloof uit te kom. Dit was egter nie so maklik nie want telkens
moes hulle van die perde afspring en ‘n pad vir hulle makkers wat in gevaar was
oopskiet. Uys, wat deur ‘n assegaai in
die sy getref is en reeds baie bloed verloor het, stort van sy perd af. Sy seun Dirkie gewaar sy wanhopige toestand
en snel hom te hulp. Die oormag was
egter te groot en pa en seun sterf ‘n heldedood.
Die res van Uys se manne vlug in aller yl en
bereik een van die gevaarlikste plekke op hul terugtog, ‘n diep sloot met dik
sandbanke! Daar was slegs een plek
waardeur die burgers een-een kon deurjaag.
Sy aan sy staan die burgers by daardie plek en skiet die aanstormende
Zoeloes terug om sodoende hulle makkers ‘n kans te gee om deur die sloot te
kom. Duskant die sloot lê vier
gesneuweldes, onder andere ‘n sekere Le Roux met twee assegaaie in sy
liggaam. In sy dolle vaart om van die
vyand te ontvlug, slaag Kaleshaan net betyds daarin om oor die lyk van Le Roux
te spring, anders kon die perd die lyk sleg vermink en ook moontlik gestruikel
het en sy ruiter afgegooi het. Aan die
oorkant van die sloot skiet die burgers dat dit bars en gee sodoende aan hulle
makkers ‘n kans
om veiligheid te bereik.
Wat ‘n jammerte tog dat in die hitte van die
stryd dinge soms so verkeerd kan
uitloop! “’n Sestigtal burgers van die Potgieterkommando onder bevel van
Kommandant S.L. het ‘n maklik ontvlugting gehad maar nie die moeite gedoen om
terug te keer om hulle makkers uit hul verknorsing te red nie.” (Ibid., Dagboek)
Die slag van Italeni was vir die burgers ’n
verskriklike vernedering en dit was ook ‘n jammerte dat Potgieter, as gevolg
van ‘n klein klompie onverantwoordelike burgers, die sondebok gemaak is en die
blaam vir die nederlaag gekry het.
Vir ongeveer 7 maande lank sukkel die
trekkers om wortel te skiet in Natal, maar as gevolg van die Zoeloegevaar moes
hulle in die laers bly. Van tyd tot tyd
was daar kleinere skermutselings met beesrowers en met diesulkes het die
burgers hulle hande vol gehad. Die laers
was goed verskans en het later ook elkeen sy eie naam gehad, onder andere
Sooilaer, Veglaer, Wagelaer, Paallaer, Modderlaer, ensovoorts. Die Coetsers was met tye in Sooilaer, Veglaer
en Modderlaer.
http://www.allexplore.com/id822.htm |
Met die koms van Andries Pretorius in
November 1838 het daar opnuut hoop opgevlam.
“In hom het die trekkergemeenskap
‘n Josua gesien wat hulle van hulle vyande sou red.” As berekende militaris laat hy geen gras
onder sy voete groei nie. Hy versamel ‘n
kommando van om en by 460 burgers. Met
biddende opsien tot die Almagtige lê die kommando, onder leiding van Sarel
Cilliers, een van die indrukwekkendste geloftes van alle tye af.
Vasberade ruk ‘n kommando op na die slagveld
wat deur Pretorius self bepaal wou word.
Onder daardie begeesterde burgers is Kaleshaan en volgens oorlewering
ook sy jonger broer Johannes Jacobus.
Op Sondag, 16 Desember 1838, nog voordat dit
behoorlik lig was, bekruip die Zoeloes die laer maar word met verpletterende
gevolge gestuit. Hulle het teruggeval om
kajuitraad te hou en tydens die onderbreking stuur Pretorius sy seun en
Kaleshaan om die toestand van die vyand te gaan waarneem.
Kaleshaan daag die Zoeloes om man teen man
te veg want hulle (die Zoeloes) het nie te doen met weerlose vroue en kinders
soos by Blaauwkrans nie. Een van die
Zoeloegeneraals skree terug dat hy weet waneer om aan te val en dat hy die waens
tot as sal laat trap. “Coetser greep daarop zӱn roer en schoot de
kaffer zӱn been stuk, die daarop door anderen gerepen werd en onder zӱn
kommando werd ingebring…” (Preller, 1925: 51).
Die Zoeloes val weer aan maar die verwoede
geweervuur van die burgers skiet hulle aan flarde, met die gevolg dat hulle in
alle rigtings vlug. Dit was die begin
van die einde van die Zoeloemag. Baie
verlig kon die trekkers eindelik die laers opbreek en Natal dieper intrek. Duurgekoopte grond word in besit geneem en die
boerdery word in alle erns begin. Die
Coetsers en hul stiefvader woon êrens tussen Estcourt en Pietermaritzburg.
Die goeie werk wat Kaleshaan as tolk onder
die Trekkers verrig het, was heelwaarskynlik die rede waarom die Volksraad hom
in Augustus 1840 as hulle amptelike tolk aangestel het. Dié pos het hy met groot bekwaamheid beklee.
******
Kaleshaan het op 3 November 1838 met Johanna
Adriana Venter in die huwelik getree. Sy
was die dogter van Marcus Albertus Venter wat later by Makapanspoort vermoor
is. Die huwelik is stellig deur
eerwaarde Erasmus Smit voltrek. Op
daardie stadium was hy die enigste leraar wat na die geestelike behoeftes van
die trekkers omgesien het.
Die jong egpaar sou egter nie wortelskiet in
Natal nie want
Engelse inmenging het veroorsaak dat baie boere weer opgepak en getrek
het. Ook die Coetsers, met hulle
stiefvader Jan Mathys, weier onverbiddelik om onder Engelse gesag te staan en
in 1845 verlaat hulle Natal met die Potgietertrek.
KALESHAAN
IN TRANSVAAL
…
“65 burgers onderteken ‘n memorie waarin die Volksraad versoek is om hom vanweë
sy invloed onder die swartes as Kommandant-Generaal aan te stel…”
Die wrok wat die Trekkers teen die Britse
gesaghebbers gekoester het vanweë Brittanje se onvermoë om die Trekkers
regverdig te behandel en hulle toe te laat om hulle lewens en besittings teen
wettelose barbare te beskerm, moes op daardie stadium weens die hernieude
inmenging in Natal stellig gegrens het aan haat. Omrede hulle diepe Christelike inbors het
hulle selde toegelaat dat haat oorgaan in geweld – dan maar liewers weer trek
en die afstand tussen hulle en die Engelse so groot moontlik maak.
In 1845 land die Coetsers en ander trekkers
op Ohrigstad – aanvanklik Andries Ohrigstad genoem. Hulle moes gemeen het dat hulle eindelik aan
die einde van hulle swerftog gekom het maar, helaas, “De Geele koors” soos Potgieter die siekte genoem het, verdryf
meeste van die nedersetters na hoër en gesonder gebiede.
Die Coetsers is onder die eerstes om die
ongesonde area te verlaat. Dit wil voorkom
of hulle nie hul plaas, soos baie ander boere, verkoop het nie want jare later,
nadat hulle in Lydenburg en omstreke hulself gevestig het, het hulle in die
wintermaande na Ohrigstad teruggekeer en daar houtwerk verrig.
Ongeveer 6 kilometers vanaf Ohrigstad, op
die pad na Burgersfort, is ‘n bosryke streek met die naam van Coetserskloof.
Daar het hulle die hout van die Kaffer-wag-‘n-bietjie-, Olien-, en
Rooi-Ivoorbome verwerk en waens herstel, asook meubels en talle ander nuttige
artikels wat op die plase gebruik is, gemaak.
Die Coetsers met hul stiefvader, Jan Mathys,
vestig hulle hoër op langs Sterkspruit.
Johannes Jacobus, jonger broer van Kaleshaan, bekom die plaas Rietspruit
wat later vir die nuwe dorp, Lydenburg, onteien sou word.
Johannes Jacobus Coetser, eienaar van plaas Rietspruit waarop Lydenburg in 1849 aangelê is |
Op Sterkspruit begin Kaleshaan en sy
stiefvader met alle erns met die boerdery.
Om hulle by te staan is Kaleshaan se
ander broers, Petrus Willem – toe 18 jaar oud, Johannes Petrus (Jan) – toe 17
jaar oud en Hendrik – toe 16 jaar oud.
Die halfbroertjie, Johannes de Beer en Kaleshaan se krosie van vier was
op daardie stadium nog te jonk om veel van hulp te wees en het maar onder die
wakende oog van moeder en ouma kleiner takies, wat by hul ouderdomme gepas het,
verrig.
Kaleshaan was ‘n ywerige boer en het ook
groot belangstelling in die politiek gehad.
Hy was ‘n goeie en beredeneerde spreker wat by sy standpunt gehou
het. Reguit en op die man af het hy nie
geskroom om sy standpunte enduit te verdedig nie. Soms wil dit voorkom of hy ‘n hardvogtige
persoon was maar te oordeel aan sy liefde vir sy gesin en familielede, sy
populariteit onder die burgers en die agting wat die swartes vir hom gehad het,
kan die hardvogtigheid toegeskryf word aan sy reël om by sy standpunte te hou
en ook om sy gesin se belange eerste te stel.
Handskrif van Kaleshaan |
Sy aansien onder die burgers het toegeneem,
wat tot gevolg gehad het dat hy as Volksraadslid verkies is. In September 1849 is hy te Krugerspos
ingesweer. In die Volksraadsnotule van
19 September 1849 is die volgende inskrywing:
“Artikel
1, de Raad opende het vergadering met den aanfang om enige te kort komende
leden te laten inzweren, het welk door den Publiek is gekozen, die heere Frans
Joubert, Wessels Swartz, Philip Coetser en Marthinus Schoeman…”
Al gou bewys Kaleshaan dat hy nie altyd
alles sommer net so aanvaar nie en dat hy enduit by sy standpunte hou. Met die Volksraadsitting in Januarie 1850 te
Potchefstroom, waar hy Lydenburg verteenwoordig het, was hy die enigste lid wat
teen die mosie, dat hulle sy broer Johannes se plaas Rietspruit vir die nuwe
dorp onteien, gestem het. Dit was maar
een van die talle kere dat hy beswaar gemaak het teen iets wat na sy mening
onregverdig was. Die besware is soms
heftig en driftig geopper, tot so ‘n mate dat hy partykeer deur die Volksraad
beboet is.
Kaleshaan was ‘n frisgeboude man van so om
en by 1.75 meter. Vir die duiwel het hy
nie gestuit nie en sy onverskrokkenheid het soms aan roekeloosheid
gegrens. Hierdie eienskap het groot
respek onder die Swazi’s afgedwing. Hy
was by uitstek ‘n kenner
van die swartman en hulle leefwyse. Hul
taal kon hy goed praat en daarom is hy by verskeie kere aangestel as lid van ‘n
kommissie om met die swartmense te onderhandel.
Die jong Volksraad van die ZAR begin
onmiddelik om betrekkinge met die Portugese tot stand te bring. Briewe van die Goeweneur J.A. De Andrade laat
die hoop opvlam dat hulle eindelik los is van die juk van die Engelse; dat
hulle die nodige voorrade vanaf die Portugese kan invoer en dat hulle een vrye staat sal
word wat hulle eie sake sou beheer.
Die Volksraad benoem ‘n kommissie om sy
antwoord na De Andrade te neem en verdere onderhandelinge aan te gaan. Kaleshaan word as een van die lede
benoem: “En is tot deze kommissie benoemd en aangesteld den Wel Edele heeren
der Edele Raad: A.T. Spies, C.
Potgieter, P.J. Coetser en H.T. Bührman en as tolk en ondersteuner dezer
kommissie de heer C. Trichard…” (Volksraadsnotule
25 Mei 1850).
Onderhandelings het goed afgeloop en die
toekoms vir die nuutgestigde Republiek het rooskleurig gelyk.
In September 1853 word Kaleshaan weer
aangestel as lid van ‘n kommissie. Die
kommissie moes met die Britse owerheid en Panda, opperhoof van die Zoeloes,
onderhandel oor die vasstelling van die suid-oostelike grens. Die onderhandlinge verloop na wense. Kaleshaan het as tolk opgetree en dit is na
aanleiding van hierdie samesprekinge dat 65 burgers van Lydenburg en omgewing
‘n memorie onderteken het waarin die Volksraad versoek is om hom (Kaleshaan)
vanweë sy invloed onder die swartes as Kommandant-Generaal aan te stel. “Wy
ondergeteekende zyn overeengekomen om volgens Uwe Edeles besluit van September
laaslede Uwe Edeles kennis te geven dat wy verlangende zyn dat Uwe Edele en
moet overgaan om den Wel Edele Heer P.J. Coetser thans lid der wel Edele
Volksraad, aan te stellen tot Kommandant Generaal voor het distrik Lydenburg.
Deze
onze keuze geschied niet uit oorzaak dat onder de aan ons voorgestelde Heeren
Veldkornetten niemand is, die wy als tot deze gewigten post bekwaam achten,
maar enkel omrede dat wy onpartydig oordeelende moeten zeggen en overtuigd zyn
dat den door onz gekozene Heer Coetser een man is die sich tegenover een vyand
door geen vrees laat weerhouden en daarby is Zy Edele zoo bekend met allen
kafferzaaken en dezelfs taal, dat wy niemand weten die zoo bekwaam is, en kan
zyn, als Zy Edele om allen kafferzaaken te onderzoeken en daarby is Zyn Edele
by allen kaffers bekend, en dit door alles gevoelen wy, en zyn overtuigd dat
indien de Heer Coetser slechts wil, hy met de hulpe Gods bekwaam is en zyn kan,
om zoo veel mogelyk de rondom ons woonende zoo zeer vyandigen kaffernatiën tot
hun plicht, en in vrede zal kunnen brengen.”
(Ibid. bylaag 98,
1853)
Onder die handtekening verskyn onder andere
die van meester Willem Poen, H.T. Bürman an al Kaleshaan se broers. ‘n Beter samevatting van een man se
kwalifikasies en bekwaamhede soos in hierdie brief saamgevat word, kon seker
nie bewoord word nie!
Die ander benoemdes vir die pos as
Kommandant-Generaal was W.F. Joubert, P. Nel en Joseph van Dyk. Op daardie stadium was W.F. Joubert alreeds
Kommandant-Generaal.
Die uitslag van die stemmery word deur
Landdros J de Clercq aan die Volksraad voorgelê: Kaleshaan – 65, W.F. Joubert – 40, P Nel – 34
en J van Dyk – 29. Alhoewel Kaleshaan ‘n
meerderheid van 25 stemme bo W.F. Joubert gekry het, kon hy om een of ander
rede nie as Kommandant-Generaal aangestel word nie.
Aanvanklik weier Kaleshaan om die amp van
Kommandant te aanvaar. Hy verskyn voor
die Kommissieraad wat sy verskoning nie aanvaar nie en gevolglik word hy met 25
Riksdaalders beboet. “Den Heer P.J. Coetzer voorgekomen zynde,
zoo heft den Edele Kommissieraad de verschoning niet angenomen…” (Ibid. 31.1.1854, Art. 5)
Oplaas het hy die pos as Kommandant
aanvaar: “… onder deze voorwaarde dat Zyn Edele de post zal aanneem voor de tyd
van een jaar en als het dan sal blyken dat Zyn Edele te arm en onvermogend mogt
zyn , dat het zyn Edele alsdan sal vrystaan om zyn ontslag te mogen vragen en
alsdan enlang, en is zulks toegestaan.” (Ibid.
1.2.1854, Art. 10).
Kaleshaan het geweet dat sy pligte as
Kommandant hom dikwels weg van die huis sou neem en daarvoor het hy nie kans gesien nie. Om onder
Joubert te werk het hom nie aangestaan nie want vir een of ander rede het die
twee nie langs dieselfde vuur gesit nie.
Daarom het hy gevra om die pos vir een jaar te beproef.
Dat die pos as Kommandant veeleisend was, is
nie te betwyfel nie. Beesrowery
veroorsaak dat hy dae lank uithuisig was om spore op te volg in ‘n poging om
die diewe te vang. Struikelblokke het hy
teëgekom want so rapporteer hy by geleentheid aan die Volksraad: “Ik kry
de plek waar zÿ de os geslagt heft en toen is ik op die spoor van die kaffers
vortgegaan, toen is wÿ door te veelheid van de reegent belet om die spoor te
kunnen na te volgt…” (Terloops: Kaleshaan het ‘n eienaardige manier gehad om
sommige van die e’s te skryf as i.
Daarom vind ons in die notules van die Volksraad dat die Sekretaris
dikwels sy van as Coitser aangeteken het).
Nog besig om veediefstalle te ondersoek,
benewens sy volksraadsverpligtinge, huislike pligte en ander aangeleenthede
word hy weereens as lid van ‘n kommissie gekies. Dié kommissie is gelas om met Omzwaas, die
koning van die Swazi’s te onderhandel oor die vasstelling van ‘n grens. Die ander opdrag was om met Sincoeba oor
vrede te onderhandel. Sincoeba en sy
stam het hulle in die noord-weste van Lydenburg in gate en spelonke, wat slegs
aan die stam bekend was, skuilgehou.
Vandaar het hulle die omgewing geterroriseer en selfs die Swazi’s nie
ongehinderd gelaat nie. Dis toe dat die
Volksraad besluit het om stappe te neem.
Sy besluite moes gewoonlik “zoo
spoedig mogelyk” uitgevoer word en versuim deur die agbare lede het gelei
tot boetes van tot 200 Riksdaalders.
Die kommissie moes onder andere ook die
versekering van Omzwaas verkry van sy trou en hulp aan die ZAR. Op daardie tydstip was dit nie ‘n kwessie
nie. Die eintlike probleem was
Sincoeba. Kaleshaan, wat elke keer ‘n
huilende gesin wat gedurig vir sy lewe gevrees het, moes agterlaat, was keelvol
vir die mooipratery met die swartes en gevolglik weier hy om die opdrag van die
Volksraad uit te voer. Hy gelas ook sy
twee veldkornette,
C. Fourie en A.C. de Beer om te weier.
Dit was in die oë van die Volksraad ‘n ernstige oortreding en aldrie
word gedagvaar om voor die Volksraad te verkyn.
Kaleshaan, wat gewoonlik onverbiddelik by sy
besluite gestaan het, verskyn voor die tugkomitee en die verrigting het soos
volg verloop:
“Daarop
is de Ed. Kom. raad en toe overgegaan om te onderzoeken wat de oorzaak is, dat
gezegde Heeren niet voldaan hebben an den gegeven order
Waarom
de Heer P.J. Coetser Kommandant onverzogt is voorgekomen en zyne, redenen
ingekragt heeft waar Z Ed. niet gereden is na de kaffers, dat
Z Ed. in die beginner geweigend heeft, om na Omzwas te gaan en het later wel
aangenomen heeft om te doen, maar tehuis komende vond hy zyne vrouw, moeder,
zusters en broeders gedurig in tranen en dat is de reden hy niet ryden kon, en
dat hy niet langer achter een vervloekte Kaffer zyn gat sal ryden, en ik bedank
op de ongemblik myn post als Kommandant, en zal my onderwerpen aan die
straffen, en de raad kan doen wat hy wil.
Welk bovermelde alles op een driftigen en beleedigende toon gesproken
word.” (Ibid. Oktober 1854, Afd. 19).
Kaleshaan word skuldig bevind aan oortreding
van die 3de artikel van die Wetsbepaling van Ohrigstad van 7 en 8 Maart
1849. Hy word met 200 Riksdaalders
beboet en moes een van sy erwe op die dorp verkoop om die bedrag by te bring.
Dat Kaleshaan
onthef is van die amp as Kommandant moes sekerlik vir hom ‘n vernedering gewees
het maar aan die ander kant seker ook ‘n verligting. Dit het beteken dat hy minder uithuisig sou
wees. Baie lede van die Volksraad was
gekant teen die vonnis maar moes gedwee die besluit van die meerderheid
aanvaar. Die aangeleentheid het sy
aansien onder lede van die Volksraad en die burgers nie juis veel geskaad
nie. Inteendeel, hy behou sy pos as lid
van die Uitvoerende Raad van die ZAR en verrig nog waardevolle werk.
Op 16 Desember
1856 besluit die Lydenburgse Volksraad om hulle onafhanklikheid van die ZAR te
verklaar. Tydens daardie vergadering was
Kaleshaan die voorsitter en het hy ‘n leidende rol gespeel. Daarna is hy met ‘n groot meerderheid van
stemme as een van die lede van die Uitvoerende Raad van “De Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika” verkies.
Hy het by verskeie vergaderings as voorsitter opgetree.
Daar is sprake
dat hy as President gekies is maar dit kan
nie gestaaf word nie. Dit was moontlik
‘n uitgemaakte saak onder die publiek dat hy wel as president verkies sou
word. Die verkiesing het egter in die
kort tydjie wat die “Republiek Lydenburg
in Zuid-Afrika” bestaan het, nie
gematerialiseer nie.
Interessant tog
is die herinneringe van Catharina Francina
Maria Dreyer (Garries), ‘n kleindogter van Kaleshaan. Met die skrywe van hierdie artikel was sy 92
jaar oud. Behalwe vir swak sig geniet sy
nog goeie gesondheid. Sy vertel: “Toe ek
op skool was, het ons ‘n Hollandse onderwyser gehad wat op daardie tyd vir my
snaaks opgetree het as ek oor die tou getrap het. Dan het hy altyd vir my gesê: ‘Nee, dat is
niet reg als de kleindogter van de President zoo maak nie’. Eers later het ek verstaan wat hy daarmee
bedoel het. ”
Op 20 Julie 1859
was Kaleshaan lid van die afvaardiging wat Panda besoek het om hom van hul
vriendskap te verseker. Weereens ‘n
bewys dat die Volksraad hom, Kaleshaan, vertrou het om die invloed, wat hy
onder die swartmense gehad het, te gebruik.
Die skeiding
tussen Potchefstroom en Lydenburg sou egter nie lank duur nie. Die twee regerings het maar al te goed geweet
dat hulle nie verdeeld kon voortgaan nie want om die volk bymekaar te hou moet
daar immers eensgesindheid in die Regering wees. As ‘n verenigde staat sou hulle meer teen ‘n
gemeenskaplike vyand kon verrig. Daarom
het hulle opnuut samesprekings tot amalgamasie geloods.
Kaleshaan was
Aanvanklik gekant teen hereniging omdat hy nie veel vertroue in M.W. Pretorius
gehad het nie. Later het hy wel die
herenigingsvoorwaardes onderteken wat op 24 November 1859 beklink is. Op 5 April 1860 word hy Lydenburg se eerste
verteenwoordiger in die Verenigde Uitvoerende Raad. Kaleshaan beklee hierdie pos met groot
bekwaamheid tot 12 April 1977 toe die ZAR deur Brittanje geannekseer is.
Die anneksasie
moes vir die ZAR ‘n bitter pil gewees het om te sluk. Het hulle dan nie vir Vryheid en
onafhanklikheid groot ontberings gely nie?
Die Britse owerheid sou die ellende wat die Boerevolk gely het in elk
geval nooit verstaan het nie. Hoe kon
hulle ook? Duisende kilometers het hulle
geskei van die ZAR en hulle moes op hoorsê en briewe reageer en daarvolgens
hulle metode van bestuur aan die suidpunt van Afrika aanpas. Dit is nodeloos om te sê dat daardie metode
heel dikwels ‘n totale mislukking was.
Hy gee bevele dat sy troepe soos ‘n bloeddorstige dier op die spoor van
die prooi moet bly. Die Boerevolk was
mos eerstens Britse onderdane en Brittanje sou sorg dat hulle dit bly.
Die Volksraad
het nietemin sy hande vol met probleme en sou eers in 1881 en weer in 1899
werklik probleme met Brittanje optel.
Kaleshaan en die Sekhukhune-Oorlog
Sekhukhune en familie |
In 1872 het
Johannes, ‘n broer van Sekhukhune teruggekeer van Botsebelo, naby Middelburg,
waar hy by Merensky, ‘n Duitse sendeling aan die sendingstasie aldaar, onderwys
ontvang het. By sy aankoms in Lydenburg
het hy van die owerheid toestemming verkry om ‘n sendingstasie te stig op die
plek waar die Spekboom- en Dorpsriviere inmekaar vloei. Dit is om en by 15 kilometer vanaf Lydenburg.
Tandila,
koningin van die Amaswazi, het die owerheid gewaarsku dat die sendingstasie van
Johannes later ‘n gevaar kan
word vir die blankes omdat sy die sluheid van die Umsitu geken het. Johannes het ‘n skool en ‘n kerk gebou en dit
deeglik verskans en dit was ook nie lank nie of die moeilikhede het begin.
Johannes begin
‘n veldtog van rowery van vee, verbranding van huise en ander
ongerymdhede. Die mense word later
verplig om in laers bymekaar te kom om hulle teen die vyand te beskerm.
T.F. Burgers, benoem
as President, moes krygswet in Lydenburg afkondig. Ook verander hy ‘n kommando om die onluste te
onderdruk. In die nag van
3 Julie 1876 het ‘n geveg by Spitskop naby Sabie plaasgevind. Paul Coetser, ‘n kleinseun van Kaleshaan,
sneuwel daar. Ook word ‘n twintigtal
“mak kaffers” met hulle vrouens en kinders wreed vermoor.
Burgers, wat nie
kennis van oorlogvoering met swartes gehad het nie, kon nie eensgesindheid
onder die burgers kweek nie. Onluste in
die kommando breek uit en die kampanje is ‘n totale mislukking. Tydens die skermutseling met die swartes sneuwel
onder andere Piet Viljoen, Adjudant van Burgers. Later sterf ook Von Schilkman en ‘n aantal
van sy manskappe.
Die toestand in
die distrik Lydenburg het so ernstig geword dat die mense besluit het om die
Engelse regering om hulp te vra. Ds.
J.G. Kriel van die Hollandse kerk en Eerwaarde Thorne van die Engelse kerk het
die dokument opgestel.
Sir Theophilus
Shepstone het in Pretoria
aangekom en die Volksraad is byeengeroep om die saak te ondersoek. Baie dinge het na daardie vergadering
plaasgevind. Shepstone het in naam van
die Britse regering besluit om Transvaal te
annekseer. Burgers het daarteen kapsie
gemaak en selfs na Europa vertrek om die Republiek se saak daar te bepleit maar
hy is kort na sy aankoms daar oorlede.
Die Engelse was nie by magte om Johannes en sy trawante, wat in die
berge en spelonke geskuil het, te onderwerp nie.
Majoor Clark en
Mnr. Cooper, die Magistraat, het besluit om koningin Tandila van die Swazi’s te
nader vir hulp. Johannes Jacobus Coetser
en Gideon Broodryk is aangesê om
‘n kommando bymekaar te bring. Tandila het hulle verwyt dat hulle in die
eerste plek nie na haar geluister het nie maar het tog ingewillig om 3 000 man
te stuur. Die hoofindoena was Bevaan en
die aanvoerder was Malatiaan. (Sommige
geskrifte praat van Matatiaan.) Tandila
het hulle uitdruklik beveel om nie Lydenburg verby te gaan tensy Kaleshaan die
impi’s aanvoer nie. Omdat Clark en
Cooper alreeds vir Kommandant C aangestel het as aanvoerder, het die Swazi’s
besluit om terug te trek. Dit het
mooipraat gekos maar eindelik het Clark
ingestem dat Kaleshaan die impi’s moet lei.
Voordat Johannes se stat ingeval is, is daar
krygsraad gehou. Daar is besluit dat
Kommandant C en sy manskappe op Vaalkop duskant Krugerspost stelling sou inneem
en die stat met kanonne bestook. Van
Lydenburg se kant af sou die impi’s die stat bestorm en Kommandant C sou dan
dieselfde vanaf Vaalkop doen. Kaleshaan
verdeel die Swazi’s in drie seksies van ‘n duisend man elk. Met ‘n woeste geskree val hulle die stat
vanuit drie rigtings aan. Dit was eers
op daardie tydstip dat die belhamels gewaar het dat die Swazi’s ‘n aandeel in
die geveg het. Die een vleuel van die
Swazi’s word teen ‘n krans vasgekeer en ongeveer 80 sneuwel daar. Na ongeveer ‘n uur is die hele stat ingeneem
en het die impi’s korte mette met die oorblywendes gemaak. Slegs die wat in die spelonke weggekruip het,
het ontkom.
Ongelukkig het Kommandant C nie die
afgesproke aanval gedoen nie en die Lydenburgers het toe met ‘n nuwe krisis te
doen gehad. Vir die Swazi’s was so ‘n
oortreding strafbaar met die dood en hulle het daarop aangedring dat die
doodvonnis gevel moet word. Met die
tussenkoms van Kaleshaan is ‘n bevredigende skikking met die Swazi’s getref,
maar Kommandant C is vir pligversuim met 500 riksdaalders beboet.
Na die episode met Johannes, broer van
Sekhukhuni, het daar ‘n baie goeie verstandhouding tussen die Swazi-hoofde en
Kaleshaan bestaan. Een maal ‘n jaar
stuur die Swazi’s aan Kaleshaan ‘n aantal vetgemaakte beeste en hy op sy beurt
stuur ‘n vaatjie wyn en ‘n aantal rolle pruimtabak. ‘n Mens wonder net waar hulle die gewoonte
aangekweek het om te pruim!
In 1876, op die ouerdom van 57, is Kaleshaan
steeds aktief werksaam in die politiek.
Hy belê ‘n politieke vergadering, heelwaarskynlik om die burgers sover
te kry om kapsie te maak teen die voorgeneme anneksasie van Transvaal deur
Brittanje. Tydens daardie vergadering
was sy sekretaris Landdros Marthinus Hendrikse wat later na Natal verhuis het.
Na die eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881)
word Kaleshaan weer as Verteenwordiger van Lydenburg herkies. Die pos het hy beklee tot om en by 1885.
Die feit dat Kaleshaan vir bykans 36 jaar in
die Volksraad gedien het, by verskeie kommissies betrokke was en telkens
geslaag het in sy onderhandelinge met die swartmense, benadruk sy buitengewone
bekwaamheid in regeringsake. Die aantal
kere wat hy beboet is vir versuim omdat hy soms traag was om van die huis af
weg te wees, het nooit sy aansien onder die burgers geskaad nie. Inteendeel, om hulle sake te behartig, was hy
die vuurvreter so reg na hulle hart.
(Die voorafgaande gebeure is ‘n verkorte
weergawe van die gegewens wat in Jan Petrus – Jannie Raadslid – se dagboek
vervat is.)
Kaleshaan en familie op kerklike gebied
. .
. “ ‘n Trotse oomblik om te aanskou hoe sy seun, Marcus, met Bybel en
Gesangeboek in die hand, die optog lei . . .”
Toe Kaleshaan en sy gade in 1848 op
Lydenburg aangekom het, het hulle ‘n krosie van 4 gehad. Die oudste 3 kinders is op Pietermaritzburg
gedoop en al die daaropvolgende kinders is op Lydenburg gedoop.
Met die tweede besoek van D A. Murray aan
Lydenburg bedien hy op
7 Januarie 1850 die doop aan 75 kinders.
Onder hulle vind ons Phillippus Jeremias en Elsje Magdalena,
onderskeidelik die 4de en 5de kinders van Kaleshaan en Elsje Magdalena.
Die twee besoeke van Ds. Murray aan
Lydenburg was vir die nedersetters soos manna uit die hemel. Uitgehonger om die Woord van God uit Sy
dienskneg se mond te verneem, stroom hulle in hulle honderde na sy
eredienste. Afgesien daarvan dat hy die
eredienste behartig, verrig Ds. Murray
ook die ander noodsaaklike kerklike dienste.
Uit die 79 katkisante wat aansoek om lidmaatskap doen, word 49 aangeneem
en 109 kinders word gedoop. Voorwaar,
Ds. Murray, konsulent van Lydenburg, het in die paar dae wat hy tot sy beskikking
gehad het – hy moes die Maandag weer vertrek – lanklaas so hard gewerk om al
die kerksake in order te kry. Die mense
smeek hom, selfs met trane in die oë, om as hul leraar aan te bly, of as dit
nie kan nie,
hulle dan nogmaals te besoek.
In hierdie verband skryf ds. Murray aan sy vader
: “Toen
ik zei dat ik hoopte da zy weldra door een andere leraar zouden worden bezorgt,
gaf een vriend ten antwoord: Maar is dan een jaar niet een al te lange tyd om
honger te lÿden? Hierop kon ik hem geen
antwoord geven.” (Du Toit,
1950: 9)
Met die stigting van Lydenburg het ook die
kerksake ‘n aanvang geneem. Aanvanklik
tel Kaleshaan nie onder die kerkraadslede nie, moontlik weens sy pligte as
Volksraadslid en die talle ekspedisies wat hy moes onderneem.
Daardie jare was die kerk en die staat egter
baie nou verbonde en het Kaleshaan vanuit die Raad se kant sy aandeel gehad in
die stigting en bou van ‘n kerk. Die Volksraad
het besluit “. . . om op het nieuw dorp
eene gebouw op te richten alwaar Christelÿke Gereformeerde Godsdienst werden
uitge-oefend.” Na aanleiding van
hierdie besluit is die eerste kollektelys omgestuur om vondse en materiaal vir
die bou van ‘n kerk in te samel.
Kaleshaan het na sy ontheffing as
Kommandant, verskeie kere op die kerkraad gedien. Hy, sy gesin en familie het, soos die
oorgrote meerderheid van die nedersetters, ‘n streng godsdienstige lewe
gehandhaaf. Nieteenstaande daarvan was
daar egter baie woelinge aan die kerklike front en sou daar dan ook later ‘n
skeuring kom. Dié skeuring veroorsaak
dat daar later drie kerke tot stand kom.
Dinge het toe nie so rooskleurig gelyk
nie. Daar was die ontheffing van
Ds. Van der Hoff as predikant van Lydenburg; die kwessie van onder watter
sinode hulle moes val; dat Lydenburg nie as ‘n aparte kerk beskou sou word nie,
ensovoorts.
“Op
die eerste Sinodale vergadering was Lydenburg deur die volgende persone
verteenwoordig: Ds H.J. Neethling, diaken I.J. Breytenbach en ouderling M.A.
Coetser, derde oudste seun van Kaleshaan.” (Ibid. bylae: 60). In latere jare
vind jy die name van Hendrik, jongste broer van Kaleshaan, en Louis Hermanus,
‘n kleinseun van Kaleshaan, wat die gemeente op Sinodale- en ook op verskeie
Ringvergaderings verteenwoordig het.
Langsamerhand kom dinge egter reg en die
gemeentelede begin spontaan saamwerk.
Die strewe om ‘n volwaardige kerkgebou te besit, word ‘n obsessie. Oud en jonk werk saam om die ideaal te
verwesenlik. “Die boukommissie het bestaan uit Ds. Neethling, die broeders M.A.
Coetser, C.C. Coetzee, S.J. Schoeman, J.D. Jankowitz, D.J. Muller, D. Kriel,
S.W. Burger en J.J. Schoeman.” (Ibid. : 44)
Die hoeksteen van die nuwe kerk is op 12
April 1890 deur Ds. Neethling gelê. Vir
die gemeentelede moes dit ‘n blye dag gewees het. Die plegtigheid was vir hulle ‘n bewys dat
daar vrug op hulle arbeid was.
Die inwyding van die kerk vind plaas op 14
Oktober 1894:
“Plegtig
is die verrigtinge wat vir die geleentheid gereël is. Om 10 uur
die oggend is eers van die kerkgebou afskeid geneem en daarvandaan het die
optog na die nuwe kerk daar naby gegaan.” (Ibid.: 45). Vir die bejaarde
Kaleshaan moes dit ‘n trotse oomblik gewees het om te aanskou hoe sy seun
Marcus, met die Bybel en gesangeboek in die hand, die optog na die kerkplein
lei.
Vier jaar later, op 19 Maart 1898, sterf
Kaleshaan en word uit dieselfde kerkgebou begrawe. As geëerde burger en oud Volkraadslid word hy
met die nodige eerbewys op sy plaas Sterkspruit langs sy gade, wat hom 10 jaar vroeër
ontval het, begrawe.
Kaleshaan sterf ‘n jaar voor die Tweede Vryheidsoorlog. Daardie stoere pionier, wat saam met soveel
ander hard gestry het en oneindig baie ellende moes verduur om ‘n onafhanklike
en vrye volk te wees, sou genadiglik die verskriking van die oorlog nie aanskou
nie. Die vernieling van huis en haard,
‘n volk wat byna in konsentrasiekampe uitgewis is, volksgenote wat oorlopers
word – die sogenaamde “Scouts” en
ander ellende sou sekerlik van hom ‘n verslae en verbitterde mens gemaak het.
Pieter Willemze (Petrus Willem)
Petrus Willem Coetzer en eggenote, Anna Alida Petronella Coetzer neé Badenhorts |
Petrus Willem, soos hy later bekend gestaan
het, is gebore op 22 Mei 1828 in die Klaas-Smithsrivierwyk te Cradock. Hy was slegs 8 jaar oud toe die Groot Trek
begin het. Saam met sy ouers en broers
oorleef hy die ontberinge van die Groot Trek.
Toe die Coetsers in 1848 op Lydenburg aangekom het, was hy reeds ‘n jongman
van 20 jaar.
Hy was ongeveer 1,75 meter lank, fris en
stewig gebou. Hy het ‘n paar yslike
groot hande gehad en was so sterk soos ‘n bees.
Plaaswerk, veral bomenslike take, was vir hom kinderspeletjies en vir sy
stiefvader, Jan Mathys de Beer, was hy inderdaad ‘n voorslag soos min.
Op die ouderdom van 24 jaar, in 1852, tree
hy met Sara Maria Viljoen in die huwelik.
Sy skenk aan hom een dogter en twee seuns.
In 1861 trou hy met Anna Alida Petronella
Badenhorst. Waar die egpaar hulle
presies in die beginjare gevestig het, is nie bekend nie. Dit wil voorkom of hulle vir ‘n tyd lank op
Sterkspruit gebly het.
Petrus was lief om te jag en sy geliefkoosde
jagveld was in die omgewing van die huidige Sabie en anderkant die Drakensberge
oos van Lydenburg. In daardie omgewing
het hy dan ook sy droomplaas ontdek en het hy besluit om hom daar te
vestig. Staan ‘n mens by die Duiwel se
Kneukels (op pad vanaf Lydenburg na Sabie), en jy kyk in ‘n suid-oostelike
rigting, sien jy onder in die vallee die sprokiesplaas, Renosterhoek, wat eens
aan Petrus Willem behoort het.
In daardie jare was wild volop, veral
renosters. Toe Petrus begin het om sy
woonhuis te bou, het hy nogal heelwat las van die renosters gehad. Skaars was die gebou vensterhoogte of ‘n trop
renosters loop die plek storm en verpletter en vertrap alles wat voorkom. Blykbaar het hulle die vreemde gewerskaf in
hulle area nie verdra nie en maar kort-kort op daardie manier hulle gebied
beveilig. Eindelik, maande later, het
Petrus daarin geslaag om hulle te verdryf en kon hy sy woonhuis voltooi. Dit is dan ook na aanleiding van daardie
befoeterde diere dat die plaas sy naam gekry het.
Petrus het in 1871 by die Volksraad aansoek
gedoen om die plaas te koop. Die nodige
kennisgewing van die voorgenome koop het in die “Staats Courant” van 21
Februarie 1871 verskyn. Geen beswaar het
ingekom nie en Renosterhoek het die eiendom van Petrus geword.
Hy en die ander pioniers het die gebied
getem en vir die nageslag leefbaar gemaak.
Hy en sy gade se stoflike oorskotte rus in die familiekerkhof op
Renosterhoek.
Jan Petrus
Hierdie voorlaaste seun van Johannes Jacobus
en Elsje Magdalena is ook in die Klaas-Smithsrivierwyk naby Cradock
gebore. In die Cradock-doopregistrasie
is sy name aangeteken as Johannis Petrus en die geboortedatum as 15 Maart
1830. Deur die jare heen het hy as Jan
Petrus bekend gestaan en dieselfde name verskyn op die grafsteen. Nog ‘n interessantheid is dat die
geboortedatum op die grafsteen as 5.3.1830 aangegee word.
Daar bestaan weinig inligting oor hierdie
broer van Kaleshaan. In die politiek en
kerksake het hy wel belangstelling getoon want sy naam verskyn van tyd tot tyd
op versoekskrifte wat aan die Volksraad gerig is.
Hoe lank Jan Petrus op Sterkspruit gebly het
is nie bekend nie. Dit wil egter voorkom
of hy om en by 1862 na Goedehoop verhuis het waar hy sy broer, Johannes
Jacobus, met die boerdery gehelp het.
Ongeveer 1852 tree hy in die huwelik met
Catharina Elizabeth Viljoen en die egpaar word met 4 seuns en 7 dogters
geseën. Sommige van sy nasate boer nog
in die omgewing van Goedehoop en Lydenburg.
Een van sy kleinseuns, Gideon Petrus (met die kostelike bynaam van Number
9 and a half), is tans (Februarie 1987) woonagtig in die ouetehuis te
Lydenburg. Hy is 92 jaar oud en geniet
nog goeie gesondheid. Jan Petrus en sy
gade se stoflike oorskotte rus in die familiekerkhof te Goedehoop.
Hendrik
Hendrik Coetser, jongste broer van Kaleshaan |
Hendrik Coetser se gade, Maria Magdalena Elizabeth Coetser neé Kruger |
Hendrik was die jongste broer van Kaleshaan
en is op Dinsdag 25 Oktober 1831 in die Klaas-Smithsrivierwyk naby Cradock
gebore. Hy het ook die ontberinge van
die Trekke oorleef en toe die Coetsers op Sterkspruit aangeland het, was hy so
om en by 18 jaar oud. Hy was met Maria
Magdalena Elizabeth Kruger getroud en die egpaar is met 5 seuns en 7 dogters
geseën. Twee van die dogters was ‘n
tweeling. Hendrik se seun, ook met die
naam Hendrik, en sy gade het 2 tweelinge gehad.
Dit is nogal merkwaardig aangesien tweelinge in die Coetser-geledere ‘n
rariteit is.
Hendrik het na sy troue naby Potloodspruit
geboer. Daar het hy die stene vir die
nuwe kerkgebou gemaak. Later verlaat hy
Potloodspruit en woon vir ‘n tyd lank op Sterkspruit. Hy was ‘n knaphandige man en het vir die tyd
wat hy op Sterkspruit gewoon het, take as bouer onderneem. Of daar nog van sy bouwerke te sien is, is
moeilik om te bepaal.
Nog later verlaat hy Sterkspruit en vestig
hom op Klipspruit waar hy tot sy dood gebly het.
Oor hierdie stamvader is daar min inligting
beskikbaar. Wat wel bekend is, is dat
hy, soos sy ander broers, ook sy beskeie bydrae gelewer het om die wildernis te
tem sodat dit vir die nageslag leefbaar kon wees.
In 1990 skenk Maria Magdalena Elizabeth,
weduwee van Hendrik, ‘n stuk grond aan die Onderwysdepartement vir die
oprigting van ‘n skool. Dié skool is van
klip gebou en in 1910 het die Onderwysopvoeding daar begin en word as sodanig
nog vandag nog gebruik.
Netjies. Ek is so bly jy hou die familiegeskiedenis lewendig! Beste wense.
ReplyDeleteDankie, Johann! Wens net ek het meer tyd gehad om die geskiedenis behoorlik na te vors en bymekaar te bring. Afgesien van wat my pa bymekaar gehark het, lyk alles vir my so verstrooid - kompleet soos 'n hand vol sand wat in die lug gegooi is en toe deur die wind geskep en verwaai is. Waar, vra ek jou, soek mens na al die korrels sand? Ag, en eintlik, behalwe vir die interessanthede wat hier en daar ontdek word, is dit so 'n mors van tyd om die verlede, en spesifiek 'n stamboom, te probeer orden. Wat maak dit nou eintlik saak wie was/is wie se oupa en oupagrootjie? Maar genealogie is mos soos legkaartbou - as jy eers begin, kan jou siel nie rus alvorens dit volledig klaar gebou is nie. Die verskil is egter dat genealogie blykbaar nie behoorlik gebou kan word nie - té veel dele het verlore gegaan. Maar nou ja... as die gogga eers gebyt het... (Ek beduie nou maar 'n kruis op my.)
ReplyDelete